Wolbomme tref dorp!

Dit is KKNK en die feesterrein en dorp is gewolbom! Die fraai fiets na­by die hoek van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg is die han­de­werk van Deleze van der Walt. Die pilaar links voor die Bur­ger­sentrum is versier deur Bets Wilkinson. Sy het ook ou feesgid­se by haar versiering ingebring. Foto’s bo en onder: Tieneke Maritz

Wolkuns op Oudtshoorn. Foto bo: Christine Schoeman Foto’s onder: Tieneke Maritz

Deur Angelique Erasmus
SOWAT 250 Oudtshoorniete wat die afgelope weke gebrei en gehekel het, het Maandagaand Oudtshoorn se strate oorgeneem en dit ’n kleurvolle wolgewaad gegee vir die KKNK.

Daar is weke lank op die dorp bespiegel dat ’n “reWOLusie’ op pad is en Maandagaand was dit sulke tyd.

Volgens Madeleine Miles, kreatiewe konsultant van die KKNK, het die idee van ’n “yarn bomb’ in Europa posgevat, waar mense in die nag ’n boom of voorwerp in openbare spasies met wol versier.

“Ons het dit egter herdoop na wolbom,” sê sy.

Miles vertel dat inwoners van instansies soos die Eljada Instituut, die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum, Tuishuis, die Caves Aftreeoord, skole, besighede en individue moue opgerol het en begin brei en hekel het.

“My voorhek het konstant oopgestaan vir die ‘woltannies” soos my kinders hulle gedoop het,” skerts sy.
Miles sê dit is wonderlik om te sien hoe die projek mense bymekaar gebring het. Sy sê ook mense se gesindheid oor die projek het haar verbaas.

Daar is sowat 1 600 bolle wol vir die projek gebruik, wat deur die Oudtshoorn Besigheidkamer en Kunste Onbeperk aangekoop is. Besighede en party individue het hul eie wol gekoop.

Die publiek moet op die uitkyk wees vir wolbomme in bome, pale, pilare, hekke, palasades en tralies.
Nie net die feesterrein is versier nie, maar ook ander dele van die dorp terwyl party inwoners tot hul eie tuine of bome versier het.

Wolbomme is onder meer te sien in Baron van Reedestraat, Voortrekkerweg, by die munispaliteit, die Queen’s Mall, Kerk- en Vredestraat.

“Ons hoofdoel met die projek is nie net om die dorp te wolbom nie, maar om Oudtshoorniete deel te maak van die fees. Ons moet nie vergeet dat óns Oudtshoorn is nie, en dat die fees ook deel is van ons elkeen ,” sê Miles.

Die boom met sy pragtige kleurvolle woljas het vandeesweek groot aandag getrek. Die boom staan in Voortrekkerweg oorkant die munisipaliteit. Foto: Christine Schoeman

Helené Louwrens besig om haar Mandala-ont­werpe teen ’n boom op te sit met die hulp van Eddie van der Walt (op die leer) en Chris van der Walt.  Foto Angelique Erasmus

Log in with your credentials

Forgot your details?