Wêreldkampioen Talya met paalspies en spiesgeweer!

Talya Davidoff met die Cabezon-vis wat sy tydens haar onlangse wêreldrekord-vryduiksessie gevang het.  Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
TALYA DAVIDOFF (28) wat op Oudtshoorn grootgeword het, het pas twee wêreldrekords vir paalspies- (pole spear) en pylgeweerhengel verbeter.

Dié besonderse sportvrou het terselfdertyd twee Suid-Afrikaanse re­kords in vryduik (56 m en 60 m) opgestel.

Talya het Dinsdag vanuit die VSA met Die Hoorn oor haar prestasies gesels.

Sy is ’n oud-leerder van die Laerskool Van Reede en die Hoërskool Oudtshoorn en het die prestasies behaal by die Carribbean Cup wat ver-lede maand in Roatán, Honduras, beslis is.

Tydens dié byeenkoms het sy teen sportvroue van dwarsoor die wêreld deelgeneem.

Daar het sy op ’n diepte van 56 m ’n Cabezon-vis van 7,257 kg met haar pylgeweer geskiet. Net hierna het sy haar eerste poging met haar tweede duikslag verbeter toe sy op 60 m nog ’n bielie van ’n Cabezon van sowat 8 kg met haar paalspies raakgesteek het.

“Die see by Roatán is baie rof, donker en koud, net soos in Kaapstad waar ek bly. Dis presies waaraan ek gewoond is,” sê sy.

In sulke omstandighede is die visse moeilik om te sien, en kruip hulle tussen die rotse weg. Sy het albei visse gevang tydens haar vryduiksessies.

Talya vertel sy moes sowat 45 dae wag om te hoor of sy die wêreldrekords wel verbeter het, omdat baie papierwerk, bewyse en verifikasies deur oorgetuies eers deurgegaan moes word.

Sy het buiten die twee wêreldrekords, nou al vyf Suid-Afrikaanse rekords op haar kerfstok.

Talya beskik oor ’n graad in Mariene Biologie, en vertel sy het nog altyd ’n passie vir die see en die bewaring daarvan gehad.

Sy is die dogter van Belinda du Plessis, leerkrag van die Oudtshoorn Vaardigheidskool.

• Vryduik (free diving) is ’n sportsoort waarin duikers in die diepsee en in swembaddens duik sonder die hulp van enige suurstoftoerusting.

Log in with your credentials

Forgot your details?