Wees voorbereid vir stemdag!

Kiesers sal op verkiesingsdag – Woensdag 8 Mei – twee stembriewe ontvang waarop hulle hul kruisies kan trek – een om vir die volgende vyf jaar ’n regering te verkies wat die land sal regeer en een om te kies wie vir die volgende vyf jaar die Wes-Kaap sal regeer.

In die nasionale en provinsiale verkiesings stem kiesers vir politieke partye en nie vir kandidate nie.
34 partye se name en logo’s verskyn op die stembrief vir die Wes-Kaapse provinsiale ver­kie­sing en 48 partye se name en logo’s op die stembrief vir die nasionale verkiesing. Die name is hoofsaaklik alfabeties gerangskik, maar van die kleiner partye verskyn aan die einde van die lys.

Kiesers kan hulle dus gereed maak vir stembriewe met baie name op en van talle politieke partye waarvan hulle dalk nog nooit gehoor het nie. Daarom is dit vir kiesers belangrik om rustig deur die stembrief te kyk en seker te maak hulle maak hul kruisie by die party waarvoor hulle wil stem.

Stemlokale is op 8 Mei tussen 07:00 tot 21:00 oop. Stemgeregtigdes moet seker maak hulle neem hul identiteitsdokument saam na die stemlokaal, sodat seker gemaak kan word jou naam is op die kieserslys.

Daarna sal jy jou stembriewe ontvang en na een van die stemhokkies toe kan gaan om jou kruisies in volkome privaatheid te trek. Die stembriewe gooi jy daarna in die stembusse wat vir jou aangedui sal word.

• Daar is meer as driemiljoen stemgeregtigde inwoners in die Wes-Kaap met 1 578 stemlokale. Die provinsiale hoof van die Onafhanklike Ver­kie­singskommissie (OVK), Courtney Sampson, het ’n beroep op inwoners gedoen om saam te werk sodat hierdie ’n “waardige” verkiesing sal wees wat ge­loof­waardig is en glad verloop.

Log in with your credentials

Forgot your details?