Voorkom so dat jy in die middedorp beroof word

DIE Oudtshoorn Polisie het die week verskeie wenke gegee om inwoners by te staan om te voorkom dat hulle in die middedorp beroof word.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was daar die afgelope maand verskeie voorvalle waar mense in die middedorp van hulle besittings beroof is, spesifiek op Unieplein, in Hoogstraat en op die Checkers-parkeerterrein.

Veral beursies met kontant en selfone word ge­steel.

“Die voorvalle is meestal voorkombaar met ’n paar eenvoudige wenke wat kan help om die voorvalle te voorkom,” sê Visser.

Hier volg die wenke:
• Moenie jou selfoon gebruik terwyl jy in die dorp loop nie. Jy sien en neem dan niks waar wat om jou aangaan nie.

• Moenie alleen huis toe loop as jy by ’n nagklub was nie.

• Gaan by ’n winkel in en maak mense bewus van die gevaar as jy in die dorp loop en enige gevaar opmerk.

• Moet nooit jou beursie uithaal ten aanskoue van ander mense nie, tensy dit by ’n winkel se betaalpunt is.

• Moet nooit alleen in die nag kitsbanke besoek nie, veral nie met All Pay en aan die einde van die maand nie.

“Ons vra dat die publiek bedag moet wees hier­op en kennis moet neem van die wenke.

“Niemand wil ’n slagoffer van misdaad wees nie. Deur die wenke te volg kan jy die risiko verminder.”

Log in with your credentials

Forgot your details?