Vermeende inbreker op toneel in nek geskiet

Man oorgeplaas na George Hospitaal

Deur Angelique Erasmus
’N MAN wat na bewering by ’n motor op Oudts­hoorn ingebreek en daarna ’n man aangeval het wat gaan ondersoek instel het, is tans in die George Hospitaal met ’n ernstige skietwond in die nek.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval Saterdag-aand omstreeks 21:15 in Adderleystraat plaasgevind.

“Daar is by ’n motorvoertuig ingebreek toe iemand onraad vermoed en ondersoek gaan instel het.

“Die inbreker het die persoon aangeval waarna ’n skoot afgegaan het en die verdagte weggehardloop het,” sê Visser.

Die vermeende inbreker is volgens Visser later deur die Polisie in die Oudts­hoorn Hospitaal opgespoor waar hy na verneem word vir ’n ernstige skiet­wond in die nek behandel is.

Hy is intussen na die George Hospitaal oorgeplaas.

Die man wat gaan ondersoek instel het, is ook na verneem word in die hospitaal vir ’n kopwond behandel.

Visser sê die Oudtshoorn Polisie ondersoek twee klagtes – een van diefstal uit ’n voertuig asook een van ’n poging tot moord.

Die name van die betrokkenes is aan Die Hoorn bekend, maar word teruggehou hangende die polisieondersoek.

Log in with your credentials

Forgot your details?