Twee bestuurders bedank

Chris Koch (links) en Felix Lötter (regs), onderskeidelik Oudtshoorn se direk­teur tegniese dienste en finansiële hoof, wat bedank het.  Foto’s: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
TWEE van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit se senior bestuurders het verlede Vrydag hul bedankings ingedien voor die verstryking van hul vyfjaarkontrakte met die munisipaliteit.

Die bedankings is vanaf einde Oktober geldig.

Felix Lötter (finansiële hoof) en Chris Koch (direkteur tegniese dienste) het na betroubaar verneem word reeds ander werksaanbiedinge by ’n munisipaliteit in die Wes-Kaap aanvaar, na bewering vir heelwat minder as wat hulle by die Oudtshoorn Munisipaliteit betaal is.

Die bedanking van dié twee ervare bestuurders is die week in ingeligte kringe bestempel as ’n aanduiding van verdeeldheid binne die munisipaliteit asook diepe ongelukkigheid by verskeie amptenare oor die beweerde inmenging deur van die ­raadslede en vals gerugte wat oor hulle of kollegas versprei word.

Voortdurende kritiek van inwoners op inisia­tiewe van die munisipaliteit speel vermoedelik ook ’n rol.

Lötter het sedert sy aanstelling in 2016 ’n groot rol gespeel om die Oudtshoorn Munisipaliteit uit die finansiële knyp te kry waarin die munisipaliteit na administrasie was.

Onder sy leiding as finansiële hoof is agterstallige skuld van R54 miljoen van Eskom wat die huidige raad in Augustus 2016 geërf het, reeds begin November 2017 afbetaal. Alle ander agterstallige skuld is gedelg, met die laaste R28,5 miljoen gedurende die boekjaar wat op 30 Junie 2018 te einde geloop het.

Die munisipaliteit se kontantposisie het voorts van R27,8 miljoen in 2017 na R70,7 miljoen in 2018 verbeter.

Chris Koch (direkteur tegniese dien­ste) het op sy beurt nie net die toestand by die rioolplaas omgekeer nie, maar sou in die toekoms ’n kernrol kon speel om verskeie groot waterprojekte vir die munisipaliteit te laat realiseer – waaronder ’n watersuiweringsaanleg, ’n besproeiingsdam in De Kombuys-gebied en ’n projek om die asbes­pype in De Rust te vervang.

Koch het reeds besigheidsplanne vir al dié projekte opgestel vir voorlegging aan regeringstrukture vir befondsing.

Lötter en Koch is nog tot einde Oktober in diens van die munisipaliteit.

Hulle bedankings is verlede Vry­dag by ’n raadsvergadering ingedien. Geen redes vir die bedankings is by die vergadering verstrek nie.

Die Hoorn kon nie daarin slaag om die week reaksie oor hul bedankings by Lötter en Koch te bekom nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?