Tuiskunsuitstalling op Prins Albert

Tuiskunsuitstalling op Prins Albert

Kunswerke deur Kevin de Klerk (bo) en Di Johnson Ackerman (onder en heelonder).

Bo is die werk van Christelle Smit en onder is van Mariana Botha

Deur Marlene Malan
DIE sesmaandelikse tuiskunsuitstalling Prince Albert Open Studios is vir die 28 kunstenaars wat daaraan deelneem ’n geleentheid vir blootstelling, om elkeen se kliëntebasis te verbreed en om ’n bewustheid te skep van wat dié kunstenaar doen en waar hy of sy gevind kan word.

So sê Kevin de Klerk, een van die deelnemers en ’n organiseerder saam met die kunstenaars Joshua Miles en Collette Hurt.

Die eerste Open Studios in die dorp is einde 2017 gehou, en die vierde uitstalling, van 5 tot 8 Julie, is weer by die huise en in die ateljees van die kunstenaars in en om die dorp. Die openingsgeleentheid is op Donderdag 4 Julie om 18:00 in die kunsgalery Prince Albert Gallery in Kerkstraat.

’n Spesiale roetekaart waar kunstenaars besoek kan word, sal by die kunsgalery beskikbaar wees.

“Open Studios bring ’n nuwe vorm van kuns en kultuur na die dorp. Die plaaslike publiek geniet die initiatief en ondersteun die kunstenaars geweldig. Dit toon ook, tydens die Open Studios-naweek, dat toeriste van so ver as Somerset-Wes, Knysna en Plettenbergbaai die dorp besoek. Dit bring ook nie vir net die kunstenaars blootstelling nie, maar ook vir ander instansies soos restaurante en gastehuise,” sê De Klerk.

Die kunstenaars werk in sowat 20 verskillende mediums, insluitend houtdrukkuns, olieverf, water­verf, etswerk, keramiek, juweliersware, lino­drukwerk, beeldhouwerk, metaalwerk, fotografie, gemengde media, weefwerk, illustrasies, druk­werk, kalligrafie, glaskuns, skeppende letterwerk, funksionele kunswerke, poppemakery en landskapskuns.

Miles, wat ’n paar jaar gelede ’n soortgelyke kunsnaweek in Baardskeerdersbos begin het, sê dis nie net gereserveer vir professionele kunstenaars nie – enigeen wat graag kunswerke of kunsvlyt wil uitstal en verkoop, kan deelneem.

Twee kunswerkwinkels word ook gehou:

• Woensdag 3 Julie: die kalligrafiekunstenaar Heleen de Haas. Onderwerp: Writing with nature’s tools, waarin gekyk word na skryfpatrone, lettervorming en skeppende skryfwyses. Plek: die plaas Aswater (tussen Prins Albert en De Rust). Bespreek by: heleen@letterhuis.co.za

• Donderdag 4 Julie: die beeldende kunstenaar Di Johnson-Ackerman. Linosnee-werksessie. Bespreek by dfackerman@gmail.com.

Van die ander deelnemende kunstenaars is: Cobus van Bosch, Sally Arnold, JP Meyer, Mariana Botha, Louis Botha, John O’Sullivan, Janet Dirksen, Sonja Fourie, Christelle Smit, Jürgen Schadeberg, Joanna Orr, Di Van der Riet-Steyn, Jürgen Schadeberg, Ben Coutouvidis, Sheila Coutouvidis, Kashief Booley, Renée Calitz, Hélène Smit, Pat Hyland, “Brita Dolls”, Sue Hoppe en Lara Evans.

Log in with your credentials

Forgot your details?