#trashtag – Kom help saam!

Elke Oudtshoorniet en besigheid wat trots is op die dorp en wil bydra om die dorp skoon te hou, word uitgedaag om aan TrapsuutjiesProjekte se maandelikse #trashtag volgende Woensdag (15 Mei) deel te neem.

Gideon Badenhorst, voorsitter van die Oudts­hoorn Besigheidskamer, het dié versoek by die Besigheidskamer se onlangse netwerkaand aan alle besighede gerig, en vertel die reaksie hierop is oorweldigend positief.

“As elkeen maandeliks twee ure kan afknyp vir hierdie inisiatief, sal dit bewustheid van die dorp se rommelprobleem verskerp en oor die langer ter­myn mense aanmoedig om minder te mors,” sê hy.

Die #trashtagChallenge het sosiale media in Maart vanjaar soos ’n tsoenami getref – die uitda­ging is om ’n gebied wat besaai is met plastiek af te neem, op te ruim en dan weer ’n foto van die skoon gebied te neem en dit op sosiale media te plaas, met #trashtag as verwysing.

Badenhorst sê die Besigheidskamer het by ’n bestuursvergadering gebiede in die middedorp geïdentifiseer waar skoonmaak nodig is.

Die parkeerterrein tussen Wilck Spar en die Drilsaal sowel as die taxistaanplekke is geïdentifiseer vir Mei se #trashtag,” sê hy. “Dit is lekker sentraal en dus maklik vir besighede se personeel om te kom help.”

Daar sal elke maand ’n ander gebied onder skoot kom.

Besighede word gevra om werknemers vir twee ure beskikbaar te stel tussen 10:00 en 12:00 op 15 Mei.

Sakke en handskoene sal om 09:45 verskaf word by die parkeerterrein langs Wilck Spar, waartydens logistiek vir die terugbring van die sakke oorgedra sal word.

Log in with your credentials

Forgot your details?