Titus-beskuldigde vra vir verwerping van sy bekentenis

Twee van die beskuldigdes in die Preston Titus-moordverhoor, Justice Mooi (links), en Magdaleen Titus. Foto: Angelique Erasmus

Deur Garnett Wicomb
DIE polisie het hom sy grondwetlike regte ontneem en oormatig beïnvloed om ’n bekentenis af te lê en daarom versoek hy die hof om dit nie te aanvaar nie.

So het Justice Mooi (30) Woensdagmiddag aan die einde van sy getuienis in die verhoor binne die Preston Titus-moordverhoor in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn aan regter Nolwazi Boqwana gesê.

Mooi het volgehou dat handtekeninge op die waarskuwingsverklaring wat die ondersoekbeamp­te, ao Martin le Roux, van hom geneem het, nie syne is nie en dat hy besluit het om ’n bekentenis af te lê, nadat sp/sers Sheroné Flemmer hom in die aanhoudingselle oortuig het dit is sy enigste uitweg “omdat die mense hier almal rassiste is”.

Mooi het breedvoerig getuig hoedat hy op 13 September 2017 in Port Elizabeth deur kapt Deon Bouwer, skofbevelvoerder van die Oudtshoorn-speurtak, en Le Roux in hegtenis geneem is. Volgens hom het Bouwer hom meegedeel dat Sixabiso Klip (23) hulle alles vertel het en dat hy die een is wat vir Preston Titus vermoor het. Indien hy dit nie erken nie, sal hy in groot moeilikheid beland.

Mooi het getuig dat Bouwer en Le Roux arrogant en onbeskof was teenoor hom. Hy is be­ledig en het kwaad en ontsteld geword. Hy het toe besluit om net stil te bly.

Volgens hom wou hulle hom ook nie toelaat om ’n oproep na ’n familielid of sy prokureur te maak nie. Hy het ontken dat hy aan Le Roux gesê het hy wil “alles oor die saak vertel”.

Mooi het ook vertel dat sp/sers Vuyokazi Lu­don­ga onderweg na Oudtshoorn ’n gesprek in Xhosa met hom gevoer het omdat Bouwer en Le Roux hulle nie sou verstaan nie. Sy het hom mee­gedeel dat hulle vir Magdaleen Titus soek en sy Magdaleen en Natashia Stuurman (beide ook beskuldigdes in die saak) ken.

Sy was met Stuurman se broer getroud en dit was Stuurman se toedoen dat die huwelik nie gehou het nie. Sy het hom aangeraai om alles te doen wat die polisie van hom vra. Dit het hom ongemaklik laat voel.

Mooi was vol lof vir Flemmer wat die eerste was om in 48 uur soos ’n beskaafde mens met hom op Oudtshoorn te praat.

• Bouwer en Le Roux het albei die week getuig dat bewerings van Mooi dat hulle beloftes aan hom gemaak en hom gedreig het, onwaar is.

Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prins­loo, het dit aan Le Roux gestel dat die waar­skuwingsverklaring van Mooi gebreke bevat en nie deur die hof aanvaar kan word nie. Hy het veral beswaar aangeteken teen die feit dat die geneesheer wat Mooi ondersoek het nie ’n J88 vorm oor beserings en dies meer ingevul het nie.

Volgens Le Roux het hy nie die betrokke aand so ’n vorm beskikbaar gehad het nie, maar wel ’n 308A-vorm wat gewoonlik vir beweerde dronk­bestuur ingevul word. Volgens hom maak hy gewoonlik van beide vorms gebruik. Hy het toegegee dat Mooi nie al die bladsye van die dokument onderteken het nie.

Dr Herman Kruger, die geneesheer, het getuig Mooi was normaal en nie onder die invloed van enige dwelmmiddel of drank toe hy hom twee keer ondersoek het nie. Hy kon geen uitwendige beserings waarneem nie en die pasiënt het oor niks gekla nie. Mooi beweer op sy beurt Kruger het hom net een keer van die kere wat hy by die hospitaal was, ondersoek.

• Die moordsaak is Maandag voortgesit nadat dit einde Mei uitgestel is sodat Magdaleen en Natashia regshulp kon kry omdat albei probleme ondervind het om hul regsgeleerdes te betaal.

Die saak gaan vandag voort.

Log in with your credentials

Forgot your details?