Spesiale wynproe vir Klassique

’N SPESIALE wynproegeleentheid ter viering van die 10de Klein Karoo Klassique word Saterdagmiddag tussen 16:00 en 17:00 in Die Windpomp Restauranteater (op die terrein van die NG Moe-derkerk op Oudtshoorn) aangebied.

“Wyn uit die Klein Karoo en elders in Suid-Afrika speel sedert die eerste Klassique in 2009 ’n groot rol in die hele fees-ervaring en dit is ’n voorreg om vanjaar ’n wynproe deur The Old Vine Project (OVP) aan te bied,” sê Hugo Theart, waar­nemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk wat Klassique aanbied.

Die projek is volgens Theart deur Johann Rupert geïnisieer, Wingerdboukundiges het vergete en verwaarloosde wingerdblokke opgespoor en die eerste lys van ou wingerde in 2005 opgestel. Vooraanstaande wynmakers soos Eben Sadie, Chris Alheit, Chris en Andrea Mullineux en wynmakers van L’Ormarins is betrek en die Ou Wingerd-wynreeks het tot stand gekom, uitsonderlike wyne gemaak van ou wingerde.

Deur befondsing vanaf die Rupert Stigting is die projek in 2016 geformaliseer. Die projek word as ’n “komplekse, maar pragtige erfenis-inisiatief” beskryf.

André Morgenthal van die OVP, ’n ervare wynmaker met ervaring in wyntoerisme, bied die wynproe aan. Hy is ’n voormalige lektor van die Kaapse Wynakademie.

• Slegs 30 kaartjies vir dié wynproe is teen R250 per persoon beskikbaar by 044 203 8600 of info@kunste.org.za. Van die wyne is tydens die geleentheid en vir die duur van die fees te koop.
Meer inligting oor The Old Vine Project is beskikbaar by www.oldvineproject.co.za.

• ’n Heerlike kuierarea word vir Klassique op die terrein van die NG Moederkerk ingerig, met heelwat produkte, koffie en etes te koop.

• Vir meer inligting oor die tien hoofvertonings tydens Klassique en die aandkonserte in Die Windpomp Restaurantteater gaan na www.klassique. co.za.

Log in with your credentials

Forgot your details?