Soldaat erg beseer in ongeluk in Parkweg

Die ongelukstoneel. Foto: Tieneke Maritz

‘N 30-JARIGE lid van die SANW op Oudtshoorn is Donderdag met veelvuldige ernstige beserings, waaronder ‘n gekraakte skedel, in die George Hospitaal opgeneem nadat hy die oggend omstreeks 08:05 deur ‘n motor in Parkweg raakgery is.

Ulrich Chelias, wat volgens vriende al etlike jare aan die SANW op die dorp verbonde is, ontvang volgens ‘n hospitaalwoordvoerder “gevorderde behandeling”.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, wil dit voorkom of Chelias oor Parkweg gestap en omgedraai het toe hy die motor sien aankom het. In die proses het hy na bewering voor die motor beland.

‘n Geskokte inwoner wat op die ongelukstoneel was, sê dit wou voorkom of Chelias se been in die ongeluk gebreek is. Mense wat op die toneel was, was erg ontsteld omdat dit bykans ‘n halfuur geduur het voordat ‘n ambulans die erg beseerde Chelias en die toneel kon bereik, en daar klaarblyklik nie nooddienste van die SANW beskikbaar was nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?