Slegs twee weke oor vir boorgataansoeke

Droogte in die Klein Karoo. Die foto is in 2018 op ’n plaas in Volmoed geneem. Die boom was toe reeds dood as gevolg van die droogte. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DAAR is slegs twee weke oor vir boere in nood om aansoek te doen vir twee boorgate wat vir boere in die Groter Oudtshoorn-streek geskenk word.

Alle boere wat hulp benodig en dalk nie oor die nodige fondse beskik om boorgate te boor nie, word aangemoedig om in te skryf.

Lucas van der Merwe, eienaar van Ziphi Nkomo Group of Companies gaan fondse beskikbaar stel vir die boor van twee boorgate in Oudts­hoorn en die omliggende omgewing. Die Hoorn is die mediavennoot van dié projek.

Die droogteprojek sal in twee fases geskied, waar addisionele hulp soos voer en kruideniersware ook na Oudtshoorn gebring gaan word nadat die omvang bepaal is van wat boere benodig.

Boere wat aansoek wil doen, moet die volgende inligting e-pos of skriftelik afgee:
• Naam en van;
• Kontaknommer;
• Plaas en area;
• Motivering.

Aansoeke sal vertroulik hanteer word en moet voor 25 Oktober 2019 ingedien word.

Kontak Angelique Erasmus by 071 365 7978 of joernalis@hoorn.co.za met navrae, of e-pos die aansoek na joernalis@hoorn.co.za.

Aansoeke kan ook per hand by Die Hoorn se kantore in die Queen’s Mall op Oudtshoorn afgegee word.

Log in with your credentials

Forgot your details?