Slaghuis-diewe kry tronk- en korrektiewe straf

Fritz Jacobs en Tammy Weyers op ’n ou foto toe hulle nog ’n paartjie was. Foto Facebook

Deur Angelique Erasmus
FRITZ JACOBS het daadwerklik die hand gebyt wat hom gevoer het deur van sy werkgewers te steel, het streeklanddros Daniël Boks Maandag in die streekhof op Oudtshoorn gesê.

Boks het Frederick (Fritz) Jacobs (30) tot vyf jaar tronkstraf en ’n bykomstige vyf jaar wat vir vyf jaar opgeskort is, gevonnis, en Tammy Weyers (27) tot drie jaar tronkstraf opgeskort vir vyf jaar.

Jacobs en Weyers het voorgekom vir die diefstal van meer as R400 000 van Badenhorst Slaghuis in September verlede jaar en Jacobs ook vir die gebruik van ’n bakkie van die slaghuis sonder toestemming van die eienaar. Jacobs was in diens van die slaghuis en hy en Weyers het met die geld wat hy moes gaan bank het en die bakkie op 26 September 2018 verdwyn. Hulle is die volgende oggend in Knysna in hegtenis geneem.

Boks het bevind dat hulle van die geld gebruik het vir onder andere dwelms en verblyf op Knysna.
Weyers is vir die volgende 18 maande onder korrektiewe toesig en 24 uur huisarres geplaas. Sy moet 18 ure gemeenskapsdiens doen en ’n lewensvaardigheids- sowel as ’n rehabilitasiekursus voltooi.

Sy mag ook geen drank of verdowingsmiddels gebruik nie, tensy op voorskrif, en ook nie Oudts-hoorn verlaat sonder toestemming van die korrektiewe beampte of van adres verander nie.

Albei het skuldig gepleit op die klagtes teen hulle en ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Die klaer in die saak, Bennie Byleveld, het die pleitooreenkoms aanvaar.

Boks het beslis dat Jacobs ’n sesde van sy vonnis moet uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kan kom.

Boks het aan Weyers gesê dat hoewel sy skuldig is aan ’n ernstige misdryf, is daar omstandighede tot versagting van haar vonnis. Sy is die ma van twee minderjarige kinders wat tans by hul pa’s bly en sy wil graag weer toesig oor albei kry.

Jacobs het op sy beurt die meeste van sy meubels en eiendom verloor omdat hy reeds sewe maande in aanhouding is.

Jacobs en Weyers is nie meer in ’n verhouding nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?