Sien jou in Havana

’n Aand soos nooit tevore

Ontmoet Oudtshoorn se vuurwarm nuwe orkes, The Chilli’Bites! Van links is Ian de Klerk (baskitaar), Willo Maya (tromme), Malcolm Arendse (stem) en Joshua Williams (‘lead’-kitaar).  Foto: Schalk le Roux

Ontmoet Oudtshoorn se vuurwarm nuwe orkes, The Chilli’Bites! Van links is Ian de Klerk (baskitaar), Willo Maya (tromme), Malcolm Arendse (stem) en Joshua Williams (‘lead’-kitaar). Foto: Schalk le Roux

Yoaris Rodriguez Avilez, Kubaanse sangeres, wat die temperatuur gaan laat styg op Saterdag 28 Julie. Foto verskaf

Yoaris Rodriguez Avilez, Kubaanse sangeres, wat die temperatuur gaan laat styg op Saterdag 28 Julie. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DIT gaan ’n aand vol ritmiese Kubaanse klanke wees soos Oudtshoorn nog nooit vantevore beleef het nie.

Noem dit ’n cocktail van Oudtshoorn en Kuba, van Latynse ritmes, pret, lekker kos en hope atmosfeer.

Die Boer & Vark, gewilde restaurant en kuierplek op Oudtshoorn, bied volgende Saterdag (28 Julie) ’n aand van “live music’ aan met die Ku-baanse sangeres Yoaris Rodriguez Avilez en die plaaslike orkes, The Chilli’Bites, wat in die voorprogram sal optree.

Yoaris, wat al oor die wêreld opgetree het en die afgelope paar maande in Kaapstad woon, gaan in ’n eerste vir die dorp die kleur en klank van Kuba na Oudtshoorn bring. Ook op die verhoog die aand in ’n opwindende voorprogram is die nuwe orkes van vier uiters talentvolle jong Oudtshoorniete.

The Chilli’Bites gaan wys dat local beslis lekker is.

In  hul voorprogram gaan hulle Afrikaanse liedjies opvoer ingekleur met Latynse ritmes. The Chilli’Bites gaan ook vir Yoaris begelei. Een van die orkeslede, Willo Maya (tromme), en Yoaris wat albei lank in Libanon as musikante gewerk het, het immers al baie saam opgetree.

Willo vertel dat die lede van die Chilli’Bites mekaar nog maar net sowat ses maande ken. Willo, wat oorspronklik van Kaapstad is, het hom op Oudtshoorn gevestig nadat hy ná ’n paar jaar in Libanon teruggekeer het na Suid-Afrika.

Die groep maak almal as individue al baie lank musiek.

Hulle is Joshua Williams (‘lead’-kitaar), Ian de Klerk (baskitaar) en, Malcolm Arendse (stem) wat saam met sy vrou Gail ’n musiekakademie op die dorp begin het.

Marita Serfontein, eienaar van Die Boer & Vark, sê sy is baie opgewonde oor die vertoning en dat dit die eerste is van meer sulke aande by dié restaurant en kuierplek.

“Ek wil graag ’n platform skep vir nuwe talent en ook vernuwing bring. Ek hoop dat ons een maal per maand so iets sal kan aanbied”

Kaartjies kos R100 en is te koop by Boer & Vark. ’n Kroeg en verskeie ligte etes sal ook die aand beskikbaar wees.

En trek gerus Kubaans aan. Dra jou los hemp, fedora op die kop of blomme in die hare. Die pret begin om 19:00.
• Die Boer & Vark is in die Prince Vintcent-stegie (vanuit Baron van Reedestraat) geleë. Vir navrae skakel gerus 084 701 4566.

Log in with your credentials

Forgot your details?