Sementpad ook verbeter

Deur Liesel le Roux
DIE sementpad tussen Calitzdorp en die Calitzdorp Spa (DR 1688) gaan opgegradeer word. Die pad se oppervlak is al verskeie jare in ’n baie slegte toestand.

Die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke vra tans vir tenders vir die opgradering van sowat 15 km van die pad.

Die opgradering sal plaasvind vanaf Calitzdorp tot by die afdraai na die Calitzdorp Spa.

Dié padprojek is die jongste die afgelope tyd van verskeie projekte van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke in die Eden Distriksmunisipaliteit asook in die Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit.

Behalwe vir die opgradering van die R341 tussen Oudtshoorn en De Rust wat na ’n onderbreking weer einde Junie afgeskop het, gaan ’n gedeelte van die N12 tussen Oudtshoorn en George ook na verwagting binnekort opgegradeer word.

Werk aan dié besige pad tussen Oudtshoorn en George sal volgens beplanning teen die einde van die jaar afskop.

Log in with your credentials

Forgot your details?