R37 760 vir verkeersbeheer

Deur Schalk le Roux
DIE moontlikheid om die roete van die jaarlikse Timbercity Padfietsren aan te pas word ondersoek nadat die organiseerders van dié fietsren ’n kwotasie van R37760 van die Oudtshoorn Munisipaliteit se verkeersafdeling gekry het om verkeersbeheerdienste tydens die fietsren aan te bied, sê Corné Bence, wat by die organisasie van die ren betrokke is.

Die Timbercity Padfietsren is ’n kwalifiserende ren vir die Cape Town Cycle Race.

Die kwotasie (proforma-faktuur) is vir agt verkeersbeamptes vir agt uur lank teen R590 per uur per beampte.

Die fietsren oor afstande van 104 km (kwalifi­serende afstand), 57 km en 30 km het die laaste klompie jare voor Brian’s Grill in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn begin en geëindig. Die 104 km-roete volg die Kango Grotte- en Swartbergpaspad tot in die Matjiesrivieromgewing en terug.

Die organiseerders oorweeg nou om die ren by Kleinplaas of buite Oudtshoorn in die omgewing van die Cango Wildlife Ranch te laat begin en eindig. Hulle wil egter die prysuitdeling steeds by Brian’s Grill aanbied. Hulle het intussen die provinsiale verkeersafdeling genader om die verkeersbeheerdienste te behartig.

Volgens Bence het hy die munisipaliteit nadat hy die kwotasie van R37 760 gekry het, genader om die dienste vir ’n laer prys of kosteloos aan te bied omdat die fietsren ’n finansiële inspuiting vir die dorp meebring. Teen R37760 vir verkeersbeheer gaan dit moeilik of selfs onmoontlik raak om die ren aan te bied.

Pat Jordaan, verkeershoof van Oudtshoorn, het hom egter laat weet: “U aansoek vir kwytskelding vir die betaling van die tariewe vir die Timbercity Cycling Event is nie goedgekeur nie en moet die volle bedrag soos per proforma-faktuur betaal word.”

In reaksie hierop het Bence die munisipaliteit laat weet dat hulle nie van die munisipale verkeersdiens gebruik sal maak nie.

“Die munisipaliteit se besluit is vir ons ’n groot teleurstelling en terugslag. Dit kan veroorsaak dat toekomstige wedrenne wat ons vir die dorp beplan, nie sal kan plaasvind nie,” sê hy.

Hy het egter bygevoeg dat hy steeds met die munisipaliteit in gesprek is om te kyk of hulle nie ’n wedersyds voordelige ooreenkoms kan bereik nie.

• Intussen het André van Greunen, eienaar van Timbercity op Oudtshoorn, gesê onder die huidige omstandighede sal dit vanjaar die laaste keer wees dat Timbercity, wat deel van The Building Company-groep is, die padfietsren sal borg.

Altesame sowat 600 deelnemers, onder wie van Suid-Afrika se voorste padfietsryers, het verlede jaar aan die Timbercity Padfietsren deelgeneem.

Onder die bekendes wat aangedui het dat hulle vanjaar gaan kom deelneem, is Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Ivan Meyer, die Wes-Kaapse mi­nister van landbou, en Anroux Marais, Wes-Kaapse minis­ter van kultuursake en sport.

Log in with your credentials

Forgot your details?