Quintus wys die wêreld hoe

Die talentvolle Quintus Viljoen van Oudtshoorn met die trofees wat wys hy het in New York stof in die res van die wêreld se oë geskop! Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
’N JONG Oudtshoorniet het pas van New York na Oudtshoorn teruggekeer met armsvol trofees en medaljes wat hy by Talent America se Internasio­nale Kampioenskap gewen het!

Quintus Viljoen, ’n matriekleerder van die Hoërskool Oudtshoorn wat gister sy 18de verjaarsdag gevier het, was lid van die Suid-Afrikaanse span vir Uitvoerende Kunste en het behoorlik die kompetisie van regoor die wêreld uitgestof.

Quintus het by die kampioenskap weggestap met vier eerste plekke en ’n tweede plek in die drama-afdeling. Hy was die wenner in Drama – onvoorbereide lees, Drama – advertensie; Drama – teatermonoloog en Drama – komedie. Hy het ’n tweede plek verower in Drama – dramaties.

Vier verskillende talent-agente van die VSA het dié talentvolle jong Suid-Afrikaner kontrakte aangebied, maar Quintus sê hy wil eers in die VSA drama gaan studeer voordat hy hom met enige kontrak verbind.

Quintus droom groot – hy hoop om aan die Vassar Kollege in New York te gaan studeer en daarna sy meestersgraad by die Yale Universiteit se dramaskool te verwerf.

“Die hele ondervinding in die VSA was ’n wonderlike belewenis, hulle hele manier van dinge doen, is anders as in Suid Afrika,” vertel hy.

Terwyl hy in New York was, het hy die geleent­heid gekry om saam met die akteurs en dansers van die teaterproduksie Aladdin te oefen, en selfs meer te leer oor die tegniese aspekte daarvan.

“Ek gaan definitief dit wat ek geleer het, vanjaar in die drama wat ons by die skool doen, toepas,” sê hy. “Ek sien uit na die laaste skoolproduksie van my skoolloopbaan.”

Quintus en sy gesin het in 2006 vanaf Springs na Oudtshoorn verhuis, waar hy sy skoolloopbaan aan die Laerskool Wesbank begin het.

Hy sê sy passie vir drama en toneelspeel het reeds as kind begin, toe hy akteurs se rolle in flieks begin namaak het by die huis.

“Ek het in graad sewe besef dat ek mal daaroor is om op te tree en verskillende rolle te speel.”