Preston Titus-moord: Mes en hamer waarskynlike moordwapens

James Dido wat vandag getuig het, buite die hof. Foto: Garnett Wicomb


In ag genome al die wonde aan die liggaam van die oorledene is sy seker dat twee wapens in die aanval gebruik is.

So het dr Mariette Hurst, wat die nadoodse ondersoek op die soldaat, stafsers Preston Titus (49) gedoen het, vandag (Dinsdag 26 Februarie 2019) in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn geantwoord op ‘n vraag van die staatsaanklaer, adv Chris van de Vijver. Sy was die eerste van 40 getuies in dié opspraakwekkende hofsaak wat Maandag begin het.

Van de Vijver wou van haar weet of die oorledenea gesteek is met die mes en gekap is met die hamer wat as bewysstukke voor die hof dien.

Volgens haar was die oorsaak van dood die erge verlies aan bloed as gevolg van die veelvuldige steek- en kapwonde met ‘n skerp en stomp voorwerp. Die volgepakte hofsaal, twee ekstra banke is iningebring, het verslae gehoor watter marteling die oorledene moes deurmaak.

Sy gesig was vol kaphoue terwyl hy in die nek, arms, rug en been gesteek is. Van die steekwonde is met geweldige krag toegedien soos die een in die rug wat tot die aorta deurgedring het.

Hurst het getuig dat sy die oorledene op Saterdag 2 Desember 2017 in sy slaapkamer gevind het waar hy in ‘n plas bloed op die vloer gelê het. Die aanval op hom moes tussen vier en tien uur voor dit plaasgevind het. Die kamermuur was vol bloedspatsels wat op ‘n moontlike worsteling dui. Steekwonde aan die oorledene se gewrig en arms is ‘n aanduiding dat hy die aanval probeer afweer het, het dr Hurst getuig.

‘n Weermagkollega en huisvriend van die Titusse, James Dido, wat twee huise laer af in Mimosalaan woon, het getuig dat sy seun hom omstreeks elfuur die aand van 1 Desember kom roep en gesê het dat hy moet gaan kyk – Preston Titus “lê in ‘n plas bloed”.

By sy aankoms by die huis het hy eers die gesin se oudste dogter sien aangehardloop kom en daarna haar ma en jonger suster op ‘n bank voor die agterdeur sien sit.

Volgens Dido was hulle baie goeie huisvriende en is hy en sy vrou as “Daddy Jim” en “Mammie Kay” aangespreek.Die oudste dogter het hom tegemoet gehardloop en die aanspreekvorms hard uitgeskree.

Magdaleen Titus, een van die beskuldigdes en eggenoot van Preston, se woorde aan hom was dat hy binne moet gaan kyk wat met Preston gebeur het en of hy nog leef.

Hy het teruggesteier as gevolg van traanrook wat uit die huis geborrel het en na ‘n rukkie ingegaan waar hy sy vriend in ‘n plas bloed in sy slaapkamer aangetref het. Die lig het gebrand en die oorledene het op sy maag op ‘n duvet en met sy regterhand onder sy kop op ‘n kussing gelê. Sy een selfoon was in sy hand en die ander langs hom.

“Ek het nie my selfoon gehad nie en na ‘n buurman gehardloop om die beheerkamer van die Infanterieskool te bel,” het Dido getuig.

Volgens hom kon hy nie sien of daar enige inbraak was nie. ‘n Sydeur wat min gebruik word, het effens oopgestaan. Hy het ook opgemerk dat daar ‘n mat in die gang gelê het wat nooit vantevore daar was nie.

Dido het onder kruisverhoor op ‘n vraag van adv Stoffel Prinsloo (vir Justice Mooi) getuig dat die sydeur nie dikwels gebruik is nie. Hy self het altyd by die agterdeur ingegaan wanneer hy sy vriend gaan besoek het omdat die voordeur ook selde gebruik is. Volgens hom was dit ook vreemd dat die huis se buiteligte af was omdat die oorledene dit altyd regdeur die nag laat brand het.

• Die oorledene se vrou, Magdaleen Titus, en haar medebeskuldigdes, Natashia Stuurman, Justice Mooi en Masimthebe “MJ” January staan tereg op klagtes van moord met voorbedagte rade en regsverydeling. Hulle pleit onskuldig. Die saak dien voor regter Nolwazi Penelope Boqwana. (Berig deur Garnett Wicomb)

Log in with your credentials

Forgot your details?