Paulse tans 24/7 bewaak

 Deur Liesel le Roux
HY vrees vir sy lewe, sê Allen Paulse, munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, na verskeie voorvalle die afgelope 10 dae waartydens hy en twee ander senior amptenare na bewering gedreig, gevloek en selfs aangeval is.

Paulse word tans 24 uur van die dag vergesel deur ’n lyfwag terwyl sekuriteitsmaatreëls by die munisipaliteit sedert Dinsdag verskerp is.

Munisipale sekuriteitspersoneel moes sedert 2 April al ten minste vier keer ingryp om amptenare te beskerm teen mense wat aandring dat die muni­si­paliteit vir hulle tenderkontrakte of werk moet gee. Volgens Paulse is sekuriteitmaatreëls verskerp om amptenare en munisipale eiendom te beskerm en te verseker dat die lewering van munisipale dienste kan voortgaan.

“Ons is bewus van ernstige dreigemente teen amptenare en die munisipaliteit self. Ons kan dit nie ignoreer nie, maar hopelik is dit net tydelik.”

’n Man wat gister met sewe buitebande in Voortrekkerweg buite die munisipaliteit opgedaag het, is ook deur sekuriteitspersoneel verwyder. Hy het aan Die Hoorn gesê nog bande en mense is op pad en dat hulle beoog om die bande aan die brand te steek. Volgens hom is hulle ontevrede dat hulle nie tenders kry nie.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, ondersoek die polisie tans twee aanrandingsake nadat twee mans verlede Dinsdag­oggend (2 April) omstreeks 08:30 na bewering vir Paulse op die munisipale perseel aangerand het, en ’n ander amptenaar gedreig het. Volgens inligting wat van die munisipaliteit ontvang is, het die twee mans navrae gedoen oor werksgeleenthede en Paulse na bewering begin beledig en aanval toe hy sy kantoor moes verlaat om na ’n vergadering te gaan.

Omstreeks 09:15 het dieselfde twee mans die kantoor van die direkteur gemeenskapsdienste, Thomas Matthee, binnegegaan en na bewering gedreig om hom dood te maak as hy nie hul vrae antwoord nie.

Daar was ook voorvalle op Vrydag (5 April) en Maandag (8 April) waar sekuriteitspersoneel amp­tenare moes beskerm. Vrydag omstreeks 12:00 het ’n groep klein kontrakteurs na bewering aggressief geraak in die kantoor van die bestuurder parke en rekreasie, Zouwe Lesia, haar gevloek en “die K-woord” toegesnou. Maandag is Paulse omstreeks 09:00 deur van die kontrakteurs by die kantoor van die

Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingewag.
• Paulse het inwoners versoek om griewe of kommer volgens prosedure en wetgewing met die munisipaliteit te bespreek. “Die munisipaliteit se deure is oop om diens te lewer. Ons is altyd bereid om lede van die publiek by te staan met probleme.”

Hy sê die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat die optrede polities gemotiveer is nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?