Padwerke voorland vir 2 maande

Padbouwerk aan die gedeelte van Voortrekkerweg tussen die Oudtshoorn Begraafplaas en Springbokweg in Bridgton kan groter verkeersdruk oor die volgende twee maande veroorsaak. Kaart: Google Maps

Deur Liesel le Roux
VERKEERSDRUK by die ingang na Oudtshoorn vanaf De Rust het van Woensdag verhoog nadat bouwerk aan die N12 uitgebrei is tot in Voor­trek­kerweg tussen die Oudtshoorn Begraafplaas en Springbokweg (by Aurial Kollege).

Dit sluit ’n stoprypunt in Voortrekkerweg in met verkeers- en wetstoepassingsbeamptes wat verkeer sal reguleer. Die opgradering van hierdie deel van die pad sal na verwagting twee maande duur.

Dit maak deel uit van die opgradering van die pad tussen Oudtshoorn en De Rust wat geske­duleer is vir voltooiing in Desember 2019. Die kontrak sluit die verbreding van die pad vanaf Oudtshoorn tot net verby die afdraai na Dysselsdorp in en die her­seëling van die res van die pad tot deur De Rust.

Volgens Patrick Jordaan, Oudtshoorn se verkeershoof, sal Heunisstraat (soos die ingang oor­kant die begraafplaas bekend is) gesluit wees ter­wyl daar hier aan die pad gebou word, en kan motorbestuurders via Springbokweg en Vyfdelaan na en van Bridgton ry.

“Dit gaan baie verkeersdruk op Vyfdelaan plaas en by padkruisings in Rossouwstraat, Tommy de Villiersstraat, Springbokweg, Coralweg en Pearlweg. Daar sal ook groot verkeersdruk wees op die kruising by Voortrekker- en Springbokweg.”

Jordaan het gesê dat dit jammer is dat dié gedeelte van die pad nou opgegradeer word met die KKNK wat volgende Donderdag begin, maar dat die kontrakteur die pad binne die voorgeskrewe tydgleuf moet voltooi.

Roadmac Surfacing Cape is die kontrakteur en het verlede jaar met bouwerk begin nadat die vorige kontrakteur, NMC onder likwidasie geplaas is.

Jordaan het motorbestuurders versoek om geduldig te wees wanneer hulle die gedeelte van die pad gebruik en hul aangemoedig om waar moontlik Jacobsonstraat en Langenhovenweg te gebruik.

Log in with your credentials

Forgot your details?