Oudtshoorn treur oor Eilers

Paul Eilers.

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN het die afgelope week getreur nadat die nuus bekend geword het dat die beken-de inwoner, akteur en regisseur, Paul Eilers (74), Vrydagaand skielik oorlede is ná ’n pulmonale embolisme.
Eilers en sy vrou, Marina, het in 1995 na Oudts­hoorn verhuis waar hulle die radiostasie Suid-Kaap Stereo op die been gebring het.

Eilers het ’n magdom rolle op die verhoog, TV en in rolprente vertolk, en in later jare ook groot sukses behaal as rolprentregisseur.

Hy was landwyd bekend en volksbesit ná sy optrede in TV-reekse soos Vyfster en Sonkring, maar hy was ook die dorp s’n – die omroeper en voorleser met die mooi stem, die man wat ge­ho­re by die KKNK sprakeloos gelaat het in Faan se Trein en Faan se Stasie, die een wat kinders kon laat skater en terselfdertyd van die omge­wing leer met sy en Marina se opvoedkundige pop­peteater.

Volgens Marina was Paul, wat prostaatkanker en hartomleidings én ’n aorta-aneurisme oorleef het, die laaste tyd gesond. Hulle het Vrydag gereed gemaak om aandete te eet toe hy net skielik stil was in sy stoel.

En hoewel die skielike verandering in haar en hul seun, Paul (25), se lewens vir haar swaar is, ervaar sy terselfdertyd ’n groot dankbaarheid.

“Dit was ’n ongelooflike voorreg om sy vrou te kon wees en saam met hom kinders te laat lag,” sê sy oor die poppeteater wat hulle jare lank saam aangebied het.

Daar sal nie ’n roudiens vir Paul gehou word nie. Die familie sal privaat van hom afskeid neem. (Sien uittreksel oor Faan se Trein op bl 3.)

Log in with your credentials

Forgot your details?