Oudtshoorn skud vere reg vir reeks konserte

Snotkop, wat in een van die konserte optree wat oor die volgende vyf maande by Celebratio buite Oudtshoorn gaan plaasvind.  Foto verskaf

DIT is eersdaags lente in die Klein Karoo en op die granaatplaas Celebratio word daar tans hard gewerk om vermaak uit die boonste rakke te verskaf met ’n reeks konserte en ’n kosfees wat van einde Augustus af op dié spogplaas langs die sementpad buite Oudtshoorn aangebied word.

Maak gereed vir ’n Hot August Night met Diamond
Eerste op die kalender is The Music of Neil Dia­mond op Saterdag 31 Augustus.

Johan Liebenberg en sy orkes sal dié aand hulde bring aan Neil Diamond, een van die mees suksesvolle kunstenaars van alle tye, met meer as 25 miljoen plateverkope wȇreldwyd. Hy het die treffers ingeryg en die lys van sy liedjies wat steeds vandag, dekades ná dit vrygestel is, gewild is, sluit in “Sweet Caroline”, “Beautiful Noise”, “America”, “I am I Said” en “Desiree”.

Johan, ’n boorling van Namibië, het die eerste keer Diamond se liedjies gesing in ’n produksie getiteld Diamonds and Pearls in 2009. Dit was so gewild dat hy in 2013 sy eie Neil Diamond-produksie geskep het. Neil Diamond and Friends was ’n reuse-sukses en sedertdien kyk Johan nie terug nie.

Kom kuier saam en raak meegevoer op ’n regte “Hot August Night” in die hartjie van die Klein Karoo.
Kaartjies vir The Music of Neil Diamond is R180 tot R380 (VIP). Al die sitplekke is op stoele en gereserveerd. Kaartjies is beskikbaar op die webwerf www.celebratio.co.za of by PostNet in die Queen’s Mall op Oudtshoorn.

Groot partytjie onder die sterre met Snotkop
’n Week later, op Saterdag 7 September, kan dié wat jonk van gees is nader staan vir ’n ener­gieke vertoning deur Snotkop.

Snotkop het die vermoë om treffer ná treffer uit te reik – sy jongste album Sous het blitsvinnig goue status bereik, soos ook sy voriges HKGK en Soos ’n BOSS.

Hy het ’n rits toekennings agter sy naam en die YouTube-video’s van sy liedjies is legendaries.

Snotkop is bekend vir sy besonderse kletsrymvaardighede, energiebelaaide ritmes en tong-in-die-kies, skerpsinnige lirieke. Konsertgangers kan uitsien na van sy grootste treffers soos “Agter op my fiets”, “Parapapa”, “Cool soos Koos Kombuis” en “Dikkelicious”. Maak jouself reg vir ’n groot partytjie onder die sterre van die Klein Karoo. Kom dans en sing dat die biesies bewe!

Kos- en wynstalletjies open reeds van 18:00 af en die vertoning begin om 20:00. Kaartjies kos R150. Kaartjies is beskikbaar op die webwerf www.celebratio.co.za of by PostNet in die Queen’s Mall op Oudtshoorn.

Heel eerste Klein Karoo Proe-fees in September

Op 21 en 22 September (Saterdag en Sondag) word die heel eerste Klein Karoo Proe-fees op Ce-lebratio aangebied. Boetiekbier, craft gin, vol­struis­burgers, skaapkop, roosterbrood, afval en granaatroomys… dis maar ’n paar van die lekker-nye wat hier geproe en gekoop kan word.

Die Proe-fees beloof om ’n ware familiefees te wees, met iets vir elkeen se smaak. ’n Toegangskaartjie vir die fees met meer as 50 stalletjies bied ’n proe-ervaring soos min.

Die feesprogram sluit kosteaters in asook musiekoptredes en ander prettige aktiwiteite soos ’n skaapkop-eetkompetisie. Kom hoor ook watter slaghuis die beste boerewors in die distrik maak ­– daar sal genoeg wees sodat nie net die beoordelaars kan proe nie!

Die Klein Karoo Proe-fees is ’n spanpoging in samewerking met die Oudtshoorn Besigheids­kamer, Oudtshoorn Toerisme en Agri Klein Karoo.

Die feestye is van 10:00 tot 18:00 daagliks. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by PostNet Oudtshoorn en www.celebratio.co.za.

A Classical Tribute to Andrew Lloyd Webber
Volgende op die Celebratio-feeskalender is A Classical Tribute to Andrew Lloyd Webber. Beleef op een aand in een vertoning die grootste treffers uit musiekblyspele soos Phantom of the Opera, Evita, Cats en Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat.

Die Stellenbosch Stadsorkes, bestaande uit 13 musikante onder leiding van Paul Loeb van Zui­lenberg sal saam met Corlea Botha en Corneil Muller van The Voice-faam sorg vir ’n onvergeetlike aand met treffers soos Don’t cry for me Argentina, I know him so well, Phantom of the Opera, Music of the Night en Memory.

Om hierdie wȇreldtreffers in die opelug onder die sterrehemel van die Klein Karoo te ervaar is ’n belewenis wat nie misgeloop moet word nie.

Die vertoning begin om 20:00. Kos- en wynstalletjies open reeds om 18:00.

Klassieke Klein Karoo Kersfees 2019
Die konsertreeks word afgesluit met Klassieke Klein Karoo Kersfees op Saterdag, 7 Desember. Ná die ongelooflike debuut van dié produksie verlede jaar, is Jannie Moolman en Corlea Botha genooi as die gaskunstenaars vir Klassieke Klein Karoo Kersfees 2019. ’n Klassieke orkes sal dié twee pragstemme begelei. Hulle sal van die wȇreld se mooiste Kersliedere asook van die gewildste klassieke treffers soos Viva per Lei, Nessum Dorma en O sole Mio hul eie maak.

Dié twee sterre sal onder die Klein Karoo se sterreprag bydra tot ’n spesiale afskop van die ­Kerstyd. Kaartjies wissel van R160 tot R200. Die vertoning begin om 19:30. Kos- en wynstalletjies open reeds om 17:30.

Vir meer inligting oor enige van die konserte of die proe-fees, bel Gerhard Meyer by 0828027138.