Opgradering van George-pad skop af teen einde Oktober

Swartbergpas kom in 2019 aan die beurt

Deur Liesel le Roux
OPGRADERINGSWERK aan 16 km van die pad tussen Oudtshoorn en George behoort teen die einde van die maand af te skop.
Die Wes-Kaapse Minister van Vervoer en Openbare Werke, Donald Grant, het die afgelope week gereageer op vrae oor die paaie om Oudtshoorn wat Die Hoorn tydens ’n pers­konferensie verlede week by die Kango Grotte aan hom gestel het. Grant het Oudtshoorn verlede Dinsdag saam met verskeie ander Wes-Kaapse ministers besoek.

Volgens Grant sal die kontrakteur vir die opgradering van 16 km tussen die T-aansluiting by die Uniondale/George-pad tot naby die haarnaalddraai buite Oudts­hoorn reeds voor die einde van die maand met werk begin.

“Die opgradering behoort tot twee jaar te duur, maar dit sal die veiligheidskwessies op die stuk pad aanspreek,” het hy gesê. Dit sluit beperkte plek op die pad om verby te steek in wat dikwels wat tot gevolg het dat bestuurders kanse vat wat soms fatale gevolge het.

Grant sê hy het onmiddellik na verlede week se perskonferensie die kantoor van die distrikspadingenieur in Oudtshoorn besoek om kwessies te bespreek wat deur die pers tydens die perskon­- ferensie geopper is, aan te spreek.

Swartbergpas kry in 2019 aandag
Volgens Grant sal die Swartbergpas aan die suidelike kant van die Swartberge – die Oudts­hoorn-kant – volgens beplanning teen April 2019 aan die beurt kom vir verbeteringe.

Die noordelike deel van die pas is verlede jaar deur die Wes-Kaapse Regering opgeknap en ’n groot deel daarvan herbou nadat groot dele van die pas verspoel het.

Volgens Grant moet sekere finansiële kwessies ten opsigte van ’n geskikte gruisgat vir die onderhoud nog gefinaliseer word.

Die Departement van Vervoer en Openbare Werke, die Oudtshoorn Munisipaliteit en die privaatsektor sal volgens hom ook eers in gesprek moet tree oor die opgradering aangesien dit ’n invloed op verkeer sal hê.

“Die pas is nou en dit sal gesluit of gedeeltelik gesluit moet word vir die effektiewe opgradering daarvan, en kwessies hier rondom sal eers uitgeklaar moet word.”

Log in with your credentials

Forgot your details?