Opgradering van George-Oudtshoornpad begin

Die opgradering van die pad tussen George en Oudtshoorn sal hier – net na die T-aansluiting en langs Holgate begin. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE opgradering en herseëling van 16,5 km van die pad tussen Oudtshoorn en George – tussen die T-aansluiting by die Uniondale/George-pad tot naby die haarnaalddraai buite Oudts­hoorn – skop vandeesmaand af.

Volgens Byron la Hoe, kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke, behoort die kontrakteur teen volgende week op die terrein te wees, maar het sekere voorafwerk reeds begin.

Opgradering en herseëling van 6,7 km van die pad tussen die T-aansluiting en Uniondale maak ook deel uit van dié projek.
La Hoe sê dié projek van R56 miljoen sal teen die einde van 2019 voltooi wees as alles volgens plan verloop.

Die gedeelte van die pad tussen Oudtshoorn en George is laas in 2003 opgeknap.

Die opgradering sal herstelwerk aan die bestaande sypaadjie, die padskouer, algemene instandhouding en herseëling insluit.

Ekstra bane sal ook op sekere plekke van die Oudtshoorn-George-pad gebou word.

Konstruksiewerk sal aan een laan van die pad op ’n keer geskied, met stopry-kontrole van die verkeer.

Motorryers kan ’n wagtyd van 15 minute by stop-rypunte verwag.

La Hoe sê plaaslike padwerkers sal vir 15 000 mensedae in diens geneem word.

Hulle sal ook opleiding in padbouvaardighede en lewensvaardighede ontvang.

• Die Oudtshoorn-Georgepad is die derde pad in die Oudtshoorn-omgewing waar die Wes-Kaapse regering tans kontrakteurs aangestel het vir opgradering.

Opgraderingswerk geskied ook aan die paaie tussen Oudtshoorn en Calitzdorp terwyl opgrade­ring van die pad tussen Oudtshoorn en De Rust sedert verlede jaar al aan die gang is.

Log in with your credentials

Forgot your details?