Nelson Mandela se boodskap – in Afrikaans – op Oudtshoorn

Nelson Mandela tydens sy besoek aan Oudtshoorn in 2001. Foto: Schalk le Roux

Nelson Mandela tydens sy besoek aan Oudtshoorn in 2001. Foto: Schalk le Roux


Mandeladag word vandag oor die hele Suid-Afrika gevier. Baie inwoners van Oudtshoorn onthou waarskynlik vandag die dag toe Nelson Mandela in April 2001 as eregas van die KKNK Oudtshoorn besoek het. Die KKNK het die dag die Vryheid van Oudtshoorn ontvang en met Madiba as spesiale gas was dit ’n feestelike dag!

Hy het die grootste deel van sy toespraak in Afrikaans gelewer.

Hier volg ‘n uittreksel:

“As ek vir ’n paar oomblikke spesifiek oor een gedeelte van die Afrikaanse gemeenskap kan praat – die Afrikaners. Ek weet dat dit nie meer moontlik is om op ’n eenvoudige manier te praat van Afrikaners as ’n eenvormige groep nie.

“Ek wil tog die stelling maak dat daardie versameling mense wat ons Afrikaners noem, ’n besondere plek in ons geskiedenis beklee.

“Ons geskiedenis het so verloop dat die swart bevolking van die vroegste tye af moes veg om hul vryheid te verdedig en terug te wen. Dit het begin met die Khoi Khoi en die San teen die vroegste blanke nedersetters. Dit is voortgesit deur die verskillende Bantoe-sprekende groepe in hul stryd teen die indringing van die koloniste. En in die vorige eeu deur die gesamentlike stryd van die polities onderdruktes.

“Van die blanke bevolkingsgroepe is die Afrikaners die enigste wat self ook hier ’n vryheidstryd gevoer het. Hulle heldhaftige teenstand teen Britse oorheersing is legendaries. Majuba en die Tweede Vryheidsoorlog is maar enkele van die name en gebeurtenisse wat uitstaan in daardie geskiedenis.

“Daardie stryd was wel net vir die vryheid van die eie groep. En in latere jare sou daardie oorwinnings gebruik word om andere te verkneg. Maar die feit dat Afrikaners daardie ervaring van ’n vryheidstryd gehad het, bind hulle op ’n besondere manier met die res van bevolking wat vir vryheid moes veg.

“Dat hulle hier in hierdie land moes veg vir vryheid en selfbeskikking, beteken ook dat hulle nie ’n ander tuiste het waarheen hulle hulself emosioneel kan wend nie. Hulle is gewortelde Suid-Afrikaners en Africans.

“I also need to pay tribute to the Coloured community, such an important section of Afrikaans speakers. There is often so much of a sense of insecurity and uncertainty expressed from their ranks. This is understandable in a situation of fundamental change.

“I have on numerous occasions, in public addresses or in more private gatherings, tried to allay these fears of marginalisation. What I do want to say today, is that the Coloured communities must learn to take pride in their history and their achievements.

“Daar is so ’n trotse geskiedenis wat terugstrek tot die vryheidstryde van die Khoi en die San; die opstande van die slawe; die saamveg van Khoi en Xhosa in die koloniale Oos-Kaap; die APO en die Coloured People’s Congress in die vorige eeu; die vryheidshelde in MK en ander organisasies; UDF en ander demokratiese bewegings. En miljoene gewone mense wat onder die haglikste omstandighede moes sukkel om vir hul kinders en gesinne ’n ordentlike lewe te probeer handhaaf.

“Ook in hierdie fees moet julle toesien dat julle trots bevestig word. Dit beteken nie om nors eenkant te staan nie. Dit beteken om met waardigheid ’n mense se reg op te eis. En Afrikaans is een arena waarin dit beslis gedoen word.

“I cannot end without referring to an experience I had at a historically Afrikaans university recently where I saw three African students receiving degrees in Afrikaans cum laude. That, once more, was a reminder of how our society is changing and how Afrikaans celebrates the facts that it is a shared language.

“Ek hoop dat ek nie hierdie Afrikaanse fees te veel bederf het met my tokkelos-Afrikaans nie. Ek wil weer net baie dankie se vir die geleentheid om hier te kon wees.

“Mag dit goed gaan met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Mag Oudtshoorn en omgewing groei sodat dit ’n beter lewe kan skep vir al sy mense. En ek is oortuig dat dit net goed sal gaan met Afrikaans en sy sprekers. En met Suid-Afrika en al sy taalgemeenskappe.”

Log in with your credentials

Forgot your details?