Name van huishoudings wat meeste water verbruik, maandeliks bekend gemaak

Deur Liesel le Roux
DIE ernstige waterbeperkings wat die Oudtshoorn Groter Oudtshoorn Munisipale Raad verlede Vry­dag tydens ’n spesiale raadsvergadering aanvaar het, het ten doel om watergebruik in die munisipale gebied met tussen 30% tot 40% te verminder.

Wetgewing wat op 21 April 2017 in die Provinsiale Gazette gepubliseer is, bepaal dat watergebruik sodanig verminder moet word wanneer ’n munisipaliteit se beskikbare waterkapasiteit tot tussen 21% en 35% daal.

Een van die waterbepalings behels dat die drie huishoudings wat die meeste water gebruik, se na­me voortaan maandeliks bekend gemaak sal word.

Waterverbruik in die munisipaliteit moet van 17 000 m³ na 11 000 m³ per dag verminder om tussen 30% en 40% te bespaar.

Die waterbeperkings lyk tans so:
• Geen was van voertuie of geplaveide, geteerde of sementoppervlaktes en strukture met ’n tuin­slang nie.

• Tuine mag slegs met ’n emmer natgegooi word tussen 08:00 en 10:00 en 16:00 en 18:00 op drie dae per week – gelyke nommers op Maandae, Woensdae en Vrydae; ongelyke nommers op Dinsdae, Donderdae en Saterdae.

• Geen privaatswembaddens mag met drinkwater gevul word nie en fonteine moet afgeskakel word.

• Geen munisipale sportterrein mag met drink­water natgelei word nie.

• Landelike watergebruikers van die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema mag op hul beurt geen landbougrond, veekampe, tuine, grasperke, parke en oop spasies natlei nie.

Huishoudings word versoek om nie meer as 12 kl per maand te gebruik nie.

Diegene wat ander water as drinkwater gebruik moet voor die huis dit aandui, byvoorbeeld “boorgatwater”.

• Krisistariewe Fase 4 geld tans in die Groter Oudtshoorn.

Inwoners van die Groter Oudtshoorn betaal sedert 1 September 75% meer vir alle drinkwater bo 7 kl.

Log in with your credentials

Forgot your details?