Moordsaak steek vas

Magdaleen (Maggie) Titus gister na die Pres­ton Titus-verhoor op Oudtshoorn tot 27 Mei uitgestel is, onder meer omdat Magdaleen, een van die aangeklaag­des, pro­bleme ondervind het om haar regsverteenwoordiger te betaal.  Foto:  Angelique Erasmus

Deur Garnett Wicomb
DIE opspraakwekkende Preston Titus-moordsaak is gister in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn tot groot ontsteltenis van die regter tot 27 Mei uitgestel omdat die weduwee van die oorledene probleme ondervind om haar regsverteenwoordiger te betaal.

Adv Mustaque Holland het die hof megedeel dat sy kliënt, Magdaleen (Maggie) Titus, nie haar finansiële verpligtinge tot op datum nagekom het nie en dat hy nie in so ’n geval sal kan voortgaan om haar te verteenwoordig nie.

Dit was die rede waarom hy nie Maandag in die hof was toe die hofsaak weer moes hervat nadat dit in Maart tot 13 Mei uitgestel is nie.

Volgens hom het Magdaleen hom egter nou die versekering gegee dat sy haar verpligtinge teen Vrydag 24 Mei sal kan nakom en hy dan sal voortgaan om namens haar op te tree.

Regter Nolwazi Boqwana het haar diepe teleurstelling oor die huidige situasie uitgespreek en gesê dat die saak die staat derduisende rand uit die sak jaag en dit onaanvaarbaar is om nie met die verhoor te kan voortgaan nie.

“Dit moet ook nie buite rekening gelaat word nie dat een van die verdagtes, Justice Mooi, in aanhouding is,” het die regter gesê.

Sy het hierna ’n ernstige beroep op die partye gedoen om hul sake in orde te kry sodat hofverrigtinge op 27 Mei voortgesit sal kan word.

Sy het die lasbrief wat Maandag vir Masithembe January uitgereik is, teruggetrek en sy borgtog van R10 000 en borgvoorwaardes saam met dié van Magdaleen Titus (R30 000) en Natasha Stuurman (R15 000) verleng.

January se regsverteenwoordiger, Louise Lu­te­rek, het die hof Maandag meegedeel dat hy sy bus in Oos-London verpas het en eers die aand in George sou aankom.

Wanneer die saak voortgesit word, sal voortgegaan word met die getuienis van die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, in die verhoor binne ’n verhoor.

• Preston Titus is die aand van 4 Desember 2017 in sy slaapkamer in die weermagbasis op Oudts­hoorn vermoor. Daar was 27 steekwonde aan sy liggaam.

Log in with your credentials

Forgot your details?