Magdaleen erken verhouding met MJ

Magdaleen Titus het gister begin getuig.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
SY het het uit haar bed gespring toe sy iemand hoor roep: “Mammie, Daddy!” en na haar man se slaapkamer gegaan met die woorde “Here, Pres­ton, hoor jy dan nie die kind roep nie?”

“Dit is toe dat my oog op hom val en ek sien die kamer is nie in ’n regte toestand nie. Ek sien toe die wasmandjie staan nie waar dit altyd staan nie en sien Preston op sy gesig tussen die twee beddens lê.”

Sy het hardop geskree en teruggehardloop na haar jongste dogter, Amoré, en haar gekry waar sy met haar hande in die lug lê

So het Magdaleen (Maggie) Titus (42), vrou van die vermoorde soldaat Preston Titus, se getui­e­nis gister afgeskop in die saak teen haar en drie medebe­skul­digdes, Justice Mooi (30), Natashia Stuurman (38) en Ma­sithembe (MJ) January (23).

Hulle word van moord met voorbedagte rade en regsverydeling aangekla.

Magdaleen het op vrae van haar regsverteen­woordiger, Henk Carstens, breedvoerig getuig oor haar ontmoetings met Mooi en January en erken dat daar in ’n stadium ’n verhouding tussen haar en January was.

Sy het gesê sy en Preston was 18 jaar getroud en twee dogters, Penelope en Amoré, is uit die huwelik gebore. Sy het na die moord op haar man geen kontak met Amoré gehad nie omdat sy ’n staatsgetuie sou wees.

Volgens Magdaleen was sy die dag van die moord, 1 Desember 2017, baie besig met reëlings vir ’n ANC-konferensie die volgende dag op Worcester. Toe sy die aand tuiskom, het sy en Amoré van die kos geëet wat haar man gemaak het. Haar dogter is bed toe waarna sy en Preston in die sitkamer gesit en gesels het oor die naweek.

Sy sou die volgende oggend vroeg na Worcester vertrek terwyl haar man die Sondag (3 Desember) vir ’n werksfunksie na Pretoria sou gaan.

“My man wou later gaan slaap terwyl ek nog saam met hom wou kuier. Hy vra my toe om vir hom die waaier te bring.” Volgens haar het hulle nie in een slaapkamer geslaap nie omdat haar man baie gesnork en met oop vensters geslaap het.

Sy het getuig dat sy en haar man se tablette, haar skootrekenaar, selfoon, horlosie en eerste trou­pand die aand gesteel is en nooit terug­gevind is nie.

Oor geld wat sy glo deur iemand anders by Pep Stores inbetaal het, het sy getuig dat sy eers binne die winkel agtergekom het dat sy nie haar ID-dokument by haar gehad het nie. Dit was nie geld vir Mooi om na Oudtshoorn te kom nie, maar vir haar suster se dogter.

Magdaleen het teen die einde van haar getuienis ontken dat sy die moord op haar man beplan het soos Sixabiso Klip, haar voormalige motorbe­stuurder, getuig het. Sy het ook ontken dat sy Mooi gehuur het of saam met Klip die aand van 29 November 2017 na die Oudtshoorn Begraafplaas gery het om Mooi daar te gaan haal, asook dat sy R30 000 kon bekostig om aan Mooi te betaal.

Die saak dien voor regter Nolwazi Boqwana en hofverrigtinge hervat vandag om 10:00 met Magdaleen wat deur die staat onder kruisverhoor geneem sal word.

Log in with your credentials

Forgot your details?