Lucas se liedjies gaan ontroer

Thean Kotze en Jannie du Toit tree op in Lucas se Liedjies. Foto verskaf

Lucas Maree as liedkunstenaar het min gelykes in Afrikaans. ’n Groot vriend en kollega van Lucas, Jannie du Toit, bied saam met die briljante musikant en sanger Thean Kotze (stigterslid van Ses Snare en vroeër ook lid van die duet Limpopo) ’n huldeblyk aan Lucas by die KKNK aan, getitel Kiekies – Lucas se liedjies.

Jannie en Thean herontdek in die vertoning Lucas se verbeeldingryke blik op die lewe en laat die gehoor met persoonlike anekdotes iets beleef van sy uitsonderlike menslikheid en kreatiewe gees.

Twee ervare verhoogkunstenaars bied die liedjies van een van die grootste legendes van Afri­kaanse musiek passievol aan. Soos Lucas self die sestigs se folk-musiek gesing het met die klem op fyn afgeronde kitaarspel, harmonieë en tekste wat iets te sê het, beweeg Thean en Jannie singend en spelend deur die wonderlike landskap van verhale, ideale, wysheid en drome wat die ou Groot Beer – soos sy vriend Coenie de Villiers hom genoem het – daargestel het.

Soos Lucas se tekste is die musiek ook ryk geskakeer en bied dit baie ruimte vir eksperimentering en verskeidenheid. Natuurlik is Droom­vrou, Sunnyside en Victoriabaai daar, maar kom ontdek juwele soos Gebed in die Laataand, Treklorrielied, Die Bedelspeler, Jerigo se Mure en veel meer. Daarby kom ook Thean se roerende weergawe van Lucas se kortverhaal-skets oor die Karoo.

• Kiekies – Lucas se liedjies is Sondag 24 Maart om 16:00 en Maandag 25 Maart om 12:00 te sien in die NG Moedergemeente op Oudtshoorn.

• Wen so kaartjies: Een leser kan vir 24 Maart en een leser vir 25 Maart elk ’n dubbelkaartjie wen na Lucas se Liedjies. Sms of whatsapp die antwoord op die vraag na 073 217 7089 saam met jou naam en selnommer voor Vrydagaand om 20:00. Die vraag is: Van watter bekende baai sing Lucas Maree? Die Hoorn sal die twee wenners kontak met besonderhede oor waar om die kaartjies te kry.

Log in with your credentials

Forgot your details?