Kultuurerfenis by Klassique gevier

Hemelbesem, wat sien sal wees by die ATKV-Erfeniskonsert wat tydens Klein Karoo Klassique aangebied word. Foto verskaf

DIE jaarlikse Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn, wil vanjaar ook ’n bydrae lewer om die kollig te laat val op Suid-Afrika se kultuurerfenis.

Die elfde Klein Karoo Klassique vind oor net meer as ’n week op Oudtshoorn plaas – vanaf Donderdag, 8 Augustus, tot Sondag, 11 Augustus.

Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees, word die ryk kultuurerfenis van Suid-Afrika ook by die fees gevier.

“As deel van ons program bied ons vir die eerste keer ’n ATKV-Erfe­niskonsert, Vir die liefde van…, aan.

“Tydens hierdie konsert word die Suid-Afrikaanse kultuur deur ’n ver­skeidenheid kunsvorme, soos riel­danse, koormusiek en solo-optredes verteenwoordig,” vertel hy.

“Dis ’n viering van talent en kultuur en word saamgestel uit die verskeidenheid talent wat deur die ATKV ontdek en ontgin word.”

Feesgangers kan uitsien na optredes deur die kletsrymer HemelBesem, Calitzdorp se rieldansgroep, die Kallieklip Stoftrappers, die klets­rymer Hakkiesdraad, die bekroonde Outeniqua Jeugkoor en ander plaas­like Oudtshoorn-kunstenaars.

Volgens Morné van Staden, projekorganiseerder van die ATKV se Erfenisprojekte, is Vir die liefde van… ’n vertoonkas wat die diversiteit van Suid-Afrikaanse kultuur in musiek, sang en dans verteenwoordig, met kunstenaars uit verskeie ATKV-projekte soos die ATKV-Rieldans, Cres­cendo en die ATKV-Rapport-kore­- kompetisie.

HemelBesem, oftewel Simon Witbooi, het dié week feesgangers ge­nooi om die konsert by te woon.

“Kom kyk, luister en ervaar die vreugde in verskil. Vir die liefde van… is mooi in musiek, roer ons riel en rym by koor en aller’ klank”, sê hy.

Vir die liefde van… word Saterdag, 10 Augustus, om 17:00 in die Toekomsrus Gemeenskapsaal aangebied. Daar is slegs ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar.

Hoewel kaartjies vir die konsert slegs R20 kos, word feesgangers aangemoedig om meer te betaal as ’n bydrae tot die Klein Karoo Kunste-akademie, ’n Kunste Onbeperk-ini-siatief in samewerking met die Oudtshoorn Munisipaliteit.

“Alle fondse wat met hierdie konsert ingesamel word, sal gebruik word vir die akademie se aktiwi­teite,” sê Theart.

Volgens Theart ontvang fees-­gan­gers wat die spesiale Klassique-pakket gekoop het, outomaties toe­- gang tot Vir die liefde van…

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word.

Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk by 044 203 8600 of e-pos info@kunste.org.za.

Log in with your credentials

Forgot your details?