Koffie, koek, kuier en skokgranate…

Bo is Die Hoorn se Angelique Erasmus, brig Lavona Januari, oud-Kokkedoor Leroux van Vuuren, kapt Johanna Nortje en Liesel le Roux van Die Hoorn.

Kol Cynthia Basie en sers Suzette Witbooi. Foto’s: Die Hoorn

Bo kuier Lynette van Rensburg, Mindi Breunissen, Shirley Wagenaar en Paunielle Rhodes saam.

Deur Angelique Erasmus
DINSDAGOGGEND was voorwaar ’n oggend van koffie, koek en skokgranate vir ’n groep van meer as 50 werkende vroue van Oudtshoorn wat deur Die Hoorn en ’n aantal vennote by die Klein Karoo Ostrich Emporium bederf is.

Beans about Coffee het gesorg vir heerlike koffie, vroue van die Oudts­hoorn Polisie vir ’n geskenkie vir almal en die oud-Kokkedoor en nuwe inwoner Leroux van Vuuren van Thabile Lodge vir heerlike kolwyntjies met handgemaakte rose wat hy die vorige aand tot laatnag vir elke vrou gebak en versier het.

Dit is die tweede jaar wat Die Hoorn werkende vroue in die dorp nooi om net ’n uur weg te breek van die werk en informeel saam te kuier en bande te bou.

Dinsdag se saamkuier was egter op ’n ander vlak nadat ’n vragmotor met kiste bier vroeër die oggend net buite die venue in ’n botsing met ’n bakkie was. Terwyl die vroue saamgekuier het, het skokgranate buite geklap terwyl die Oudtshoorn Polisie die skare wat van die kiste bier wou gaps, probeer beheer het. En hoewel dit party gespanne gemaak het, was almal dit eens dat dit ’n oggend was wat niemand ooit sal vergeet nie.

Kapt Johanna Nortje het belangrike wenke oor veiligheid met die vroue gedeel. Sy het almal gemaan om waaksaam te wees, en nie besittings soos handsakke, selfone of skootrekenaars te laat rondstaan of in motors te los nie.

• Baie dankie aan Beans about Coffee, brig Levona Januari en die Oudts­hoorn Polisie en Leroux van Vuuren van Thabile Lodge vir julle bydrae!

So skryf een van ons gaste:

■ Wat n wonderlik ondervinding en koffie by EMPORUIM was dit nie! Aksiebelaai, ’n regte Western Cowboy-oggend My senuwees is op. Op 84 jaar het ek nóóit gedink dat ek so iets so beleef nie. Die sprekers was in die kol met paraatheid terwyl regte, egte polisiegeweerskote bang-bang dawe­rend van buite deur die gebou weergalm. My senuwees! Net ’n dubbele kalmeerpil gaan my vanaand help! Baie dankie vir ’n in die kol-vrouetee met die polisie by ons. – Sakegroete, Rika Venter

Log in with your credentials

Forgot your details?