Klein Karoo Kampioenskappe weer hier!

Bo: Burger van der Westhuizen in aksie tydens verlede jaar se byeenkoms.
Onder: Motors het reeds vanaf Maandag by die Ovaalbaan se ingang langs die R62 geparkeer.
Foto: Angelique Eramsus

Deur Angelique Erasmus
DIE grootste ovaalbaanmotorwedren in Suid-Afrika vind Saterdag buite Oudtshoorn op die kleinste ovaalbaan in die land plaas.

Die jaarlikse Klein Karoo Kampioenskappe word vanjaar vir die 28ste keer op die Arnold de Jager Ovaalbaan gehou.

Teen Woensdag was daar reeds 127 renmotors wat vir 13 klasse ingeskryf het.

In elke klas is daar drie uitdunne voordat die finale ren plaasvind.

Terwyl Dirk van der Westhuizen, voorsitter van die Oudtshoorn Motorklub wat die kampioenskappe aanbied, met Die Hoorn gesels, klink die klanke van ACDC se Thunder sonder ophou uit sy sak, soos belangstellendes hom bel en reëlings getref word.

By die baan gaan dit dol. Die muur kry ’n splinternuwe laag wit verf en Johan Brooks is besig om 15 luidsprekers om die baan op te stel. “Weet jy dat ons die beste klank hier gaan hê,” sê Van der Westhuizen so terloops terwyl ons langs die baan oor Saterdag se wed­ren gesels.

Nie net is hierdie motorwedren die sportgeleentheid op Oudtshoorn wat van die meeste toeskouers lok nie, maar ook ’n groot finansiële inspuiting vir Oudtshoorn se ekonomie.

Hotelle en gastehuise is reeds vol bespreek, selfs Songoud Koshuis by Langenhoven Gimnasium ook.
“Baie gastehuise en hotelle het vir ons deelnemers en toeskouers spesiale pryse aangebied en ons is ongelooflik dankbaar daaroor,” sê Van der Westhuizen.

Hulle verwag sowat 2700 toeskouers, sommige van so ver soos Walvisbaai en Rustenburg.

Die deelnemers wat die verste ry om te kom jaag, kom van Bloemfontein af. Daar is ook deelnemers van Oos-Londen af.

Altesame 27 deelnemers kom van Oudts­hoorn, George, Mosselbaai, Knysna en Riversdal. Die res kom van elders.

Van der Westhuizen verduidelik dat een van die grootste trekpleisters die volstruis-eiertrofee is.

Foto’s van die renjaers by hul motors wat verlede jaar gewen het, word op volstruis­eiers “gedecoupage”.

Dié eiers dien dan as vanjaar se trofees. Die wenners van verlede jaar gaan dus vanjaar alles uithaal om te wen sodat hulle die eiers met hulself en hul motors op kan wen.

Dié trofees is nie net eie aan die Klein Karoo Kampioenskappe nie, maar is ook die mees gesogte ovaalrentrofee in Suid-Afrika omdat dit so uniek is.

Elke klas het of ’n huidige SA kampioen of ’n voormalige SA kampioen wat jaag.

Die 70-jarige sir Richard, soos die renlegende Richard Griessen van Richard Gries-sen Racing van Kaapstad bekend staan, is die hoofborg van die kampioenskap en is reeds 21 jaar lank ’n borg van die wedren.

Net die beste beamptes, almal A-graad, word vir die wedren gebruik, en kom van die Kaap, Worcester en Port Elizabeth.

Twee spesialis-motorsportkommentators gaan toeskouers ingelig hou met hul geesdriftige kommentaar in Engels en Afrikaans.

’n Nuwe opwindende wending is dat vier aksiekameras aangebring word, nie net om die beamptes te help wanneer belangrike be-sluite geneem moet word nie, maar ook dat die hele wedren reg-streeks op die internet gebeeldsend kan word.

“Ons nooi inwoners en besoekers om Vry­dag van 14:00 tot 18:00 die motors by Laerskool Laurus te kom besigtig terwyl die renmotors tegnies geïnspekteer word. Daarna gaan ons saam kuier,” sê Van der Westhuizen.

Die baan open Saterdag om 06:00 vir toe-skouers. Die renne be- gin om 12:00.

Die publiek word ge-nooi na die prysuitde­ling by Laerskool Lau­rus ná die wedren (20:30). ’n Steakete is beskikbaar teen R120. Om te bespreek kontak Teresa van der Westhui­zen by 082 371 8504.

• Gister was daar al 15 motors by die ingang na die renbaan geparkeer om die beste plek langs die baan kry!

Log in with your credentials

Forgot your details?