Klein groep raadslede daag op vir gekanselleerde raadsvergadering

Deur Angelique Erasmus
’N HANDJIEVOL raadslede was vanoggend vanaf 08:00 in die raadsaal by die Oudtshoorn Munisipaliteit ten spyte daarvan dat die raadsvergadering gistermiddag deur die speaker, Julia le Roux, gekanselleer is.

Die 2019/2020-begroting sou vanoggend bespreek word, Dié begrotingsvergadering moet voor einde Mei plaasvind. Die Hoorn het nog nie ‘n amptelike rede  vir die kansellasie van die vergadering ontvang nie. Nie-amptelik wil dit egter voorkom dat daar dreigemente was om die vergadering te ontwrig en sekere raadslede of amptenare uit hul posisies te verwyder.

Gaven Juthe, Sarco-raadslid wat vanoggend in die raadsaal was, is die kansellasie van die vergadering nie wettig nie, omdat daar nie skriftelik aan almal kennis gegee is daarvan nie. Hy sê raadslede is gistermiddag laat per sms- en WhatsApp-boodskappe en telefonies ingelig dat die vergadering gekanselleer is.

Volgens ’n Icosa-raadslid, Vlancio Donson, is hul bekommerd omdat die speaker, Julia le Roux, klaarblyklik op siekteverlof is.

Die groep het aangedui hulle is ook bekommerd omdat daar in Februarie laas ’n raadsvergadering was. Hulle sê hul versoek is dat die DA in Kaapstad die begroting vir Oudtshoorn moet opstel.

Die raadslede by die vergadering het ’n prokureursbrief aan Die Hoorn getoon waarin die munisipale bestuurder ingelig word dat slegs die speaker volgens wet by magte is om ’n raadsvergadering te belê of te kanselleer. Volgens die prokureursbrief het ’n “meerderheid raadslede” skriftelik gevra dat die vergadering moet plaasvind, maar het slegs die speaker die mag om dit te doen.

Donson beweer alle kommunikasie word deur middel van ’n prokureur oorgedra, en dat dit onnodige onkoste veroorsaak.

Jongilizwe Tyatya, hoofsweep van die ANC, sê hulle het reeds verskeie keer probeer dat raadsvergadering gereël moet word, maar dat dit tevergeefs was. Tyatya sê die speaker is onder wet verplig om elke drie maande ’n vergadering te belê. Die laaste vergadering het einde Februarie plaasgevind.

Hy het ook verwys na ’n mosie van wantroue wat reeds in Februarie teen Oudtshoorn se speaker ingedien is en nog nie voor die raad gedien het nie.

“Die DA kan nie Oudtshoorn regeer as hul nie eers ’n vergadering kan reël nie,” het hy gesê.

Vanoggend by die stoele van die speaker en die munisipale bestuurders is voor van links Klaas Windvogel en Johanna Floors (albei ANC) en agter van links Jongilizwe Tyatya (ANC-hoofsweep), Vlancio Donson (Icosa), Charol Cobus (ANC) en Gaven Juthe (Sarco). Foto Angelique Erasmus

Log in with your credentials

Forgot your details?