Klassique-kaartjies verkoop fluks

Klassique is altyd spesiaal, sê kunstenaars

   

Van die bekende gesigte by die Klein Karoo Klassique wat vandag op Oudtshoorn afskop! Van links bo is Antjie Krog wat die teks vir die nuwe mis, Misa, geskryf het; Sulayman Human wat op Dysseldorp en Oudtshoorn grootgeword het Sulayman Human & Myles Roberts in Concert; ATKV Af­sluitingskonsert), die Charl du Plessis Trio (Night at the Opera) en André Swartz (Soirée Musicale).  Foto’s verskaf

Deur Liesel le Roux
KAARTJIES vir vanjaar se 10de Klein Karoo Klassique verkoop fluks en vergelyk goed met die ver­kope van 2017 toe die meeste kaartjies nog verkoop is, sê Hugo Theart, waarnemende uitvoe­ren­de hoof van Kunste Onbeperk wat die fees aanbied.

Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn word van vandag tot Sondag aangebied.

Hoewel daar nog kaartjies vir al die vertonings beskikbaar is, is die spesiale pakket van kaartjies vir al 10 hoofvertonings teen R900 uitverkoop.

Volgens Theart is daar op groot aanvraag nog ’n nuwe pakket by Computicket vir al tien hoofvertonings besklikbaar gestel teen ’n afslag van R200 op die totale prys. Dit staan by Computicket bekend as die Klassique-pakket.

“Ter viering van Klassique se tiende verjaarsdag, is die fees vanjaar een dag langer en bied ons tien uitvoerings aan teenoor agt verlede jaar. Na die sukses van die laataand-uitvoerings in Die Windpomp Restaurantteater verlede jaar word dié program ook uitgebou van twee na drie optredes.”

• Hoogtepunte uit vanjaar se musiekprogram sluit in Night at the Opera deur die Charl du Plessis Trio. Hulle open die musiekprogram in die NG Moederkerk Donderdag om 14:30. Dit is ’n unieke reis met die mees geliefde opera-arias, waaronder uit Die Towerfluit (Der Hölle Rache), Rigoletto (La donna è mobile), Tosca (E lucevan le stelle) en ander.

Du Plessis tree vanjaar vir die vyfde keer by dié fees op met stampvol sale ’n kenmerk van sy optredes.

Hy sê Klassique se gehore maak dié fees vir hom spesiaal. “Die gehore is daar vir die regte rede: om musiek te geniet en te waardeer. Ek vind dat die fokus van ’n gehoor ’n sekere energie na die verhoog oordra, waarop die kunstenaar kan reageer. Dit maak gewoonlik dat ek beter speel, as ek weet die gehoor is by my en luister aandagtig. Klassique is spesiaal omdat ek ook die geleentheid kry om die musiek van my klassieke kollegas te hoor en saam met hulle te kuier en idees oor musiek uit te ruil,” sê hy.

Hy sê hul program is pas vir die eerste keer in Switserland gespeel. “Die gehoor kan hulle voorberei vir ’n volle dosis opera.

Daar is natuurlik ook lekker jazz-nommers waarin my trio-kollegas Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme) kan wys hoe goed hulle speel!”

Met die tweede uitvoering, Misa (Donderdagaand om 18:00), het die gehoor die voorreg om ’n premièrevoorsmaak te kry van

’n nuwe mis met ’n Suid-Afrikaanse invloed. Dié projek, in opdrag van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), word vir uitvoerings by verskeie feeste en teaters in 2019 ontwikkel. Die vertoning by Klassique word aangebied as ’n demonstrasielesing met uittreksels uit die werk wat voorgelees en gesing word, gevolg deur ’n gesprek met gehoordeelname.

Soliste van die Kaapse Operakoor, Thando Mjandana, Ané Pretorius en Cecilia Rangwanasha, sluit by Antjie Krog op die verhoog aan.

Die Odeion Strykkwartet keer op Vrydag om 10:00 terug na Klassique vir The Four and the One, saam met pianis Albie van

Schalkwyk, om die intimiteit van die beste meesterstukke van die laat-romantiese era te ontsluit.

“Die atmosfeer op Oudtshoorn en die gehore wat uitgehonger is vir klassieke musiek, maak dit baie spesiaal om by Klassique op te tree,” sê Anmari van der Westhuizen lid van die strykkwartet.

Mareli Stolp (klavier), Waldo Alexander (viool) en Morné van Heerden (klarinet) is Vrydagmiddag om 14:30 in The New Old –

Die nuutheid van oudheid te sien. Stolp, vanjaar die derde keer by die fees, het ook by die eerste fees in 2009 opgetree.

“Ek vind die luisteraars geweldig betrokke, toegewyd en vol goeie energie. Dít maak Klassique ’n wonderlike speelervaring. En dan die om­gewing: die Klein Karoo is ’n wonderskone plek en Oudtshoorn is ’n warm en ontvanklike dorp.”

• Gaan na www.klassique. co.za vir meer inlig­ting. Kaartjies vir die tien hoofvertonings by Computicket en Checkers. Kaartjies vir die drie laataandvertonings by die Windpomp te koop by Die Neelsie in Jan van Riebeeckweg.

Log in with your credentials

Forgot your details?