KKI en Mosstrich doen weer aansoek vir samesmelting

Deur Liesel le Roux
KLEIN Karoo International (KKI) en Mosstrich sal voor die einde van die maand weet of die Mededingingskommissie hul aansoek om saam te smelt, goedgekeur het.

Die twee maatskappye het verlede jaar om samesmelting aansoek gedoen, maar die aansoek is deur die Mededingingskommissie afgekeur. KKI en Mosstrich het egter sedert verlede week by ’n tribunaal in Pretoria weer ’n geleentheid gekry om die Mededingingskommissie te oortuig dat ’n samesmelting van die twee maatskappye tot voor­deel van die volstruisbedryf sal wees.

Volgens die twee maatskappye is die voor­gestelde transaksie ’n poging om die volstruisbedryf te stabiliseer en te beskerm.

Hulle betoog dat die voorgestelde samesmelting die oorlewing van die volstruisbedryf sal help en werksgeleenthede sal skep.

Die kommissie het volgens ’n persverklaring wat deur hulle uitgereik is, die aansoek van die twee maatskappye om samesmelting verlede jaar afgekeur nadat hulle bevind het dit sou tot ’n amperse monopolie in die mark vir volstruisvleis en vere lei.

Die kommissie was ook van mening dat die samesmelting ten doel gehad het om kompetisie tussen die twee maatskappye uit te skakel en dat hulle daarna die hele waardeketting van die volstruisbedryf sou beheer.

Die tribunaal het verlede week getuienis aangehoor van onder meer die twee maatskappye, boere, kleinhandelaars en ekonomiese kundiges.

Die laaste argumente is Maandag (8 Julie) aangehoor.

Die betoogshoofde is Dinsdag gefinaliseer.

Die tribunaal sal voor einde Julie uitspraak gee.

Log in with your credentials

Forgot your details?