Kiste bier en skokgranate …

Bo: Die botsingstoneel in Langenhovenweg Maandagoggend kort nadat ’n botsing tussen ’n vragmotor vol kiste bier en ’n Nissan-bakkie op die hoek van Langenhoven- en Dassieweg op Oudtshoorn gebots het. Regs: Skokgranate moes deur die oggend verskeie kere deur lede van die openbare orde-polisie geskiet word om die skare te beheer wat hul hande op die kratte bier probeer lê het. Foto’s: Angelique Erasmus

’n Polisieman lê aan by ’n huis op die hoek van Langenhoven- en Rademeyerweg met vermoedelik rubberkoeëls nadat hy skok- en rookgranate gegooi het omstaanders, wat nader gehardloop het om hulself aan bier of twee te help, te verwilder. Foto: Schalk le Roux

Die boom is tydens die botsing disnis gery. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
LANGENHOVENWEG op Oudts­hoorn was Dinsdagoggend ’n gerui­me tyd gesluit nadat ’n botsing om- streeks 09:00 tus­sen ’n vragmotor en ’n wit Nissan NP200-bakkie die pad vol hope stukkende glasbierbottels gelaat het.

Christo Barnard, bestuurder van Southern Cape Beer Distributor, die eienaar van die vragmotor, sê feitlik die hele vrag is verloor – sowat 1400 kiste bier met ’n waarde van sowat R300000. Die skade aan die vragmotor is nog nie bepaal nie.

Die vragmotor was van George se kant op pad. Net nadat dit Oudts-hoorn oor die spoorwegbrug langs die Klein Karoo Emporium binne-gery het, het dit teen die bakkie gebots wat in Rade­mey­erweg oor Langenhovenweg gery het.

Ooggetuies beweer die Nissan-bakkie het voor die vragmotor ingery. Die vragmotor het na be­wering die bakkiebestuurder ge­waarsku deur sy toeter te druk.

Volgens die ooggetuies het die vragmotor vir die bakkie probeer uit-swaai deur eers na die een kant en toe na die ander kant te draai, maar kon hy nie die botsing vermy nie.

Die vragmotor het die bakkie in ’n lamppaal op die middelman vasgedruk, waarna die vragmotor eers in die teenoorgestelde baan tot stilstand gekom het.

Die vragmotor het ook ’n boom met wortels en al uit die grond gery, en die mure van twee huise beskadig voor­dat dit tot stilstand gekom het.

Verkeersdienste het ná die botsing al vier bane van Langenhovenweg af-gesper aangesien die pad met kratte en stukkende bottels besaai was.

Die bestuurder van die bakkie, wat die hele tyd by sy bewussyn was, is deur noodpersoneel met behulp van meganiese kake uit die wrak be­vry. Hy is daarna per ambulans na die hospitaal vervoer.

Die bestuurder van die vragmotor en sy vier passasiers is almal op die toneel vir skok behandel.

Ná die botsing het ’n groeiende skare mense op die toneel begin saamdrom.

Lede van die openbare orde polisie moes talle kere skokgranate afvuur nadat mense drank gegryp of die toneel betree het.

Dit het die munisipale skoon­maak­­dienste sowat vyf ure geneem om al die glas, kratte, bottels en voer­tuie van die toneel te verwyder.

Die pad is eers ná 14:00 weer vir verkeer oopgestel.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, ondersoek die Polisie ’n klag van roekelose en nalatige bestuur, en ’n klag van openbare geweld.

Dit blyk dat die bestuurder van die bakkie vanaf Prins Albert is.

 

Log in with your credentials

Forgot your details?