Jong toeris ernstig ná botsing

Die botsingtoneel op die Kango Grotte-pad Sondagaand. Die twee voertuie het nadat hulle mekaar getref het aan die linkerkant van die pad (vanaf Oudtshoorn) met hul neuse in die bosse tot stilstand gekom. (Foto verskaf.)

Deur Liesel le Roux
’N JONG Amerikaanse vrou, Caroline Liao (27), is Sondagaand ernstig op die Kango Grotte-pad beseer toe die silwer Nissan waarmee sy en haar Amerikaanse vriend, Alexander Rilee (27), gery het, reg van voor met ’n ambulans gebots het.

Liao is volgens Gerhard Joubert, bestuurder van die Mediclinic Klein Karoo, Sondagnag na noodbehandeling in die Mediclinic Klein Karoo oorgeplaas na die Medi­clinic George waar sy in die hoësorgeenheid opgeneem is.

Sy is Woensdag oorgeplaas na ’n gewone saal en reageer na verneem word goed op behandeling.

Rilee is na die botsing in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem en Dinsdag ontslaan. Hy keer na verneem word vandag terug na die VSA.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die Nissan na bewering in die verkeerde baan gery toe dit die ambulans getref het.

Die ambulans was van Oudtshoorn af op pad na Schoemanshoek en die Nissan vanuit die rigting van die Kango Grotte na Oudtshoorn. Die botsing het omstreeks 21:20 plaasgevind.

Sy het gesê die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur.

Daar is op die botsingstoneel gespook om een van die twee ambulansmanne uit die ambulans te bevry en die Nissan moes in ’n stadium weggetrek word sodat noodpersoneel hom kon help.

Die ambulansmanne is albei na die botsing in die Oudtshoorn Hospitaal behandel vir ligte bese­rings.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Ge­sondheid, is hulle Sondagaand reeds huis toe gestuur.

Log in with your credentials

Forgot your details?