Huis Triomf: Ons mag nie ons kinders faal nie

Die bestuurskomitee van Huis Triomf, die kinderhuis op Oudtshoorn wat sy deure sal moet sluit as daar nie finansiële hulp kom nie. Van links is Suné Rupping (ondervoorsitter), Dalia Wilck, Alie Killian (tesourier), Valerie van der Walt en Louine Olivier (voorsitter).  Foto: Schalk le Roux

DAAR is tekens van hoop vir Huis Triomf, die kinderhuis op Oudtshoorn wat sy deure sal moet sluit as daar nie hulp van buite kom nie. Die staatsubsidie wat die kinderhuis ontvang, is nie voldoende om die kinderhuis se uitgawes maandeliks te dek nie.

Daar was die afgelope week positiewe reaksie en moontlike inisiatiewe wat hoop gee dat die kinderhuis se deure langer sal kan oopbly.

Die Hoorn het verlede week berig dat Huis Triomf, wat 30 seuns tussen sewe en 18 jaar huis­ves, die einde van die jaar se deure as gevolg van finansiële druk sal moet sluit as daar nie dringend hulp van buite kom nie.

Dit is die enigste kinderhuis in die Suid-Kaap en Klein en Groot Karoo wat omsien na seuns wat deur ’n hofbevel uit hul ouerhuise verwyder is omdat omstandighede nie geskik is vir hulle om daar aan te bly nie. Sluit dié kinderhuis, het die kinders geen heenkome nie.

Die kinderhuis het tans ’n maandelikse tekort van tussen R20 000 en R30 000.

Die Hoorn kan vandeesweek met dankbaarheid berig dat daar wel reeds enkele besighede en individue was wat die afgelope week bydraes of beloftes van bydraes gemaak het.

Ons mag nie ons land se kinders faal nie.

Ons wil inwoners van die streek aanmoedig om mense te vertel van die nood by die kinderhuis, ook mense buite ons streek wat sal verstaan wat die waarde daarvan is om in ons land se kinders te belê.

Ons is die week byvoorbeeld verras deur die positiewe reaksie van die Ziphi Nkomo Group in Kaapstad wat kort nadat Angelique Erasmus, joernalis van Die Hoorn, hulle van die nood by Huis Triomf vertel het, besluit het om ’n bydrae te lewer. Francois Pheiffer en Lucas van der Merwe van die groep wat Oudts­hoorn die week besoek het, het boonop moeite gedoen om ook Huis Triomf te gaan besoek en met van die bestuurskomiteelede en personeel te gesels.

Hans van Arkel van Oudtshoorn se tweeling­stad in Nederland, Alphen aan den Rijn, het aan aangedui dat hy ’n bydrae maak en ook die nood op die webblad (www.stedenband.com) en hul Facebook-blad sal deel.

Die kinderhuis se geldsake en ander kwessies word beheer deur ’n bestuursraad met ’n sakeman van die dorp, Alie Killian, as tesourier. Killian, wat self in ’n kinderhuis grootgeword het, het in 2006 by die kinderhuis betrokke geraak en vul reeds 15 jaar lank dié rol op ’n onberispelike wyse.

Killian het gister gesê die bestuursraad is baie dankbaar oor donasies wat die week ontvang is.

“Ons is nou baie meer positief as begin verlede week. As ek net na die huidige finansies kyk sonder enige verdere beloftes, sal Huis Triomf nog oop kan bly vir die volgende ses maande.

“Ons is egter positief dat ons in die volgende ses maande meer volhoubare ondersteuning sal kry wat die voortbestaan van Huis Triomf sal verseker.”

Huis Triomf is geregistreer as ’n ACVV-kinderhuis en ontvang maandeliks ’n subsidie per kind, maar dit is nie voldoende om alle uitgawes te betaal nie, soos kos, skoonmaakprodukte, toiletware, krag, water en salarisse van personeel.

Twee moontlike maniere waarop die gemeenskap en besighede betrokke kan raak, is:

• ’n Eenmalige donasie of die onderneming om R100 per maand per aftrekorder aan Huis Triomf te betaal. Indien 200 tot 300 persone/besighede gevind kan word wat dit sal doen, sal basiese kostes gedek kan word.

Rekeningnaam: ACVV Huis Triomf Child Care Centre; FNB, Tjekrekening, Rekeningnommer: 53230020512, Bankkode: 210414

• ’n Inisiatief om ’n kind “aan te neem” deur byvoorbeeld vir hom op sy verjaarsdag of Kersfees ’n geskenk te gee en te help dat hy aan die begin van die skooljaar die nodige tas met skoolbe­nodigdhede het.

(Deur Liesel le Roux)