Hofsaak twee keer uitgestel ná MJ siek word

Beskuldigdes 2, 3, 4 en 5, (van links) Justice Mooi, Magdaleen Titus, Natashia Stuurman en Masithembe (MJ) January wat byna die hele week lank ongesteld was.  Foto: Garnett Wicomb

Magdaleen Titus verlaat die hof Maandag.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE Preston Titus-moordsaak kon nie Dinsdag voortgesit word nie nadat een van die be­skul­digdes, Masithembe (MJ) January, Maandagaand siek geword het nadat hy asma gekry het. Die saak is gister ook na die oggendsessie vir die res van die dag verdaag om January tyd te gee om verder te herstel omdat hy steeds asemhalingsprobleme ondervind het.

Die selfoonrekords van die vier beskuldigdes is hierna, sonder teenkanting van die verdediging, as bewysstukke aanvaar.

Adv Christhénus van der Vijver het die hof vir verdaging gevra voordat hy getuienis aanbied oor die beweerde beplanning van die moord op wyle stafsers Preston Titus wat die aand van 1 Desember 2017 wreed in sy slaapkamer in die weermagbasis op Oudtshoorn vermoor is.

Van der Vijver het gister ook aangedui dat die staat die analise van die selfoonrekords van die beskuldigdes gebruik het om Sixabiso Klip, wat reeds vir die moord gevonnis is, se pleitoor­een­koms met die staat te verifieer.

• Ao Anna-Marie van Niekerk, ’n spesialis in die analisering van selfoonrekords, sal na verwagting wanneer sy haar getuienis hervat ook visueel deur haar analise aantoon wie van die beskuldigdes waar was toe kommunikasie plaasgevind het.

Volgens die selfoonrekords wat die week voor die hof was, was daar op 29 November 2017, die dag toe Justice Mooi, een van die beskuldigdes, en ’n ongeïdentifiseerde man per taxi vanaf Port Eli-zabeth na Oudtshoorn gebring is, ’n toename in kommunikasie tussen sy selfoon en die van sy mede-beskuldigde Magdaleen Titus.

Die twee mans is by die Oudtshoorn begraafplaas afgelaai waar hulle deur Klip opgelaai en na die woning van nog ’n beskuldigde, Natashia Stuur­man, geneem is waar Magdaleen hulle ingewag het.

Van Niekerk het ook getuig dat daar op 3 Desember 2017 ’n baie lang oproep vanaf Klip se selfoon na dié van Mooi gemaak is. Mooi was volgens die betrokke selfoonbasis toe reeds terug in Port Elizabeth.

Die verhoor word vandag voortgesit in die rondgaande Hooggeregshof in Oudtshoorn.

Log in with your credentials

Forgot your details?