Gereed vir veilige en waterbewuste fees

MET die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn om die draai, het feesorga- niseerders en die Oudtshoorn Muni­sipaliteit ’n versoek aan besoekers gerig om die fees op ’n ver­ant­woordelike wyse te geniet.

Volgens die burgemeester van Oudts­hoorn, Colan Sylvester, is dié Karoodorp tans ’n droogtegeteisterde gebied met ’n damvlak van slegs 36%.

“Gebruik water spaarsamig, want elke druppel tel,” sê Sylvester.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê die feeskantoor het ’n versoek aan stalletjiehouers en ander kontrakteurs gerig om water tydens die fees oordeelkundig te gebruik.

“Ons logistieke spanne ry reeds twee weke lank herwinde water aan om die gras in die Kuierbuurt aan die lewe te probeer hou,” sê Theart.

’n Paar waterwenke vir kultuurdiere wat na Oudtshoorn migreer, sluit die volgende in:
• Bring water van die huis af – elke liter help;

• Moenie krane onnodig laat loop nie en meld enige lekkasies onmiddellik aan;

• Kook slegs die hoeveelheid water wat jy benodig;

• Indien jy op Oudtshoorn bly tydens die fees, was groot bondels wasgoed op ’n slag, of selfs beter, bring genoeg klere sodat jy nie wasgoed hoef te was nie;

• Stort eerder as om te bad en maak seker jou stort duur nie langer as jou gunsteling Juanita du Plessis-treffer nie;

• Hergebruik handdoeke en vra jou gasheer of gasvrou om nie beddegoed onnodig te was nie, of nog beter, bring jou eie handdoeke en beddegoed en was dit by tuiskoms;

• Bring genoeg waterlose handwasmiddel sodat jy nie jou hande by ’n wasbak of kraan hoef te was nie;

• In die gees van die fees, gooi eerder ’n vleisie op die kole as om kos te kook;

• Les jou dors by die verskeie watergate in die dorp!

Buiten vir waterbesparing, is herwinning vanjaar ’n prioriteit.

Volgens Theart het die KKNK, in samewerking met die Cango Wildlife Ranch en die munisipaliteit, ’n projek geloods om bewusmaking oor herwinning te bevorder.

“Ses eenhede is vir dié doel deur Cango Wildlife Ranch gebou en word in die Kuierbuurt saam met ander vullisdromme geplaas sodat herwinbare materiaal direk na ’n herwinningsaanleg gestuur kan word”, voeg Theart by.

Alle Oudtshoorn-besighede word aangemoedig om deel te neem aan hierdie projek. Meer inligting is beskikbaar by die feeskantoor of die munisipaliteit.

Feesgangers se veiligheid is ook top-prioriteit en daarom is daar streng maatreëls om die Kuierbuurt en ander feesareas te polisieer en ’n veilige fees te verseker.

“Sekuriteit word tydens die fees opgeskerp en beter beligting word in donker areas op die terrein aangebring. Alle lede van die Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) is in gereelde gesprek en vergader daag­liks.

“Indien feesgangers tydens die fees enige ongerymdhede of noodge­valle gewaar, moet hulle dit dadelik telefonies by die GOS aanmeld deur 044 203 8656 te skakel,” sê Theart.

Besoekers word aangemoedig om nie alleen – veral saans – rond te beweeg nie en eerder die Pendeldiens te gebruik. Dié diens is van 08:00 tot 22:00 beskikbaar voor die Langenhoven Gedenkbiblioteek in Voor­trek­kerweg. Kaartjies kos R20 per rit.

Feesgangers wat van George, Beau­fort-Wes en Calitzdorp reis, moet daarop let dat padwerke op dié toegangsroetes voorkom. “Ons doen ’n beroep op motoriste om veilig te wees en ag te slaan op die stoprypunte wat tans in werking is”, sê Sylvester.

Theart het ook gevra feesgangers moet hulself genoeg tyd gee om betyds vir vertonings te wees aangesien laatkommers nie geakkommodeer sal word nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?