Garnett op pad na Kroasië!

Suid-Afrika se nommer een-tennisspeler in sy ouderdomsgroep, Oudtshoorn se Garnett Wi­comb, is op pad Kroasië toe! Hy spook egter tans om die fondse vir sy verblyf in Kroasië bymekaar te maak. Foto verskaf

Deur Wyndham Ewerts
OUDTSHOORN se bekende tennisspeler en vry­skutjoernalis, Garnett Wicomb (76), is vir ’n twee­de keer gekies om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig!

Hy vertrek volgende week na Kroasië om sy land by die Internasionale Tennisfederasie se 38ste Super-Senior Wêreldspan en Individuele Kampioenskap te gaan verteenwoordig.

Die spankampioenskap vind van 14 tot 21 Sep-tember plaas en die individuele kampioenskap van 22 tot 29 September.
Wicomb, tans Suid-Afrika se nommer een-mansspeler in die ouderdomsgroep 75 plus, was ook verlede jaar lid van die span wat in Florida, VSA gespeel het.

Hy sal in Kroasië in die individuele kampioenskap, asook in die dubbelspel saam met Raj Naganna van Kwazulu-Natal en in die gemengde dubbelspel saam met Paulien van den Tempel van Nederland speel.

Wat befondsing op nasionale vlak betref, suig tennis maar aan die agterste speen, sê Wicomb. Die spelers is self verantwoordelik vir hul reiskoste, verblyf en sakgeld.

“Tennis Suid-Afrika voorsien slegs die sweetpakke aan spanlede en op die oom­blik benodig ek nog finansiële bystand vir my verblyf in Kroasië.

“Die res van my uitgawes is reeds gedek danksy bydraes deur die Oudtshoorn Munisipaliteit, fami-lie, vriende en my kinders.”

Wicomb vertrek op Woensdag 12 September.

Enigeen wat hom kan bystaan met sy verblyf-koste, kan hom by 072 468 6456 kontak.

Log in with your credentials

Forgot your details?