Fokus op dienslewering en produktiwiteit

OM inwoners in hierdie moeilike ekonomiese tye tevrede te hou met die opstel van ’n begroting kan nie maklik wees vir die betrokke amptenare nie, veral aangesien daar baie elemente van die begroting is waaroor hulle nie beheer het nie.

Die twee grootste uitgawes van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit is salarisse, wat 40,2% van die begroting uitmaak en nie raadslede se vergoeding insluit nie, en elektrisiteit, wat 26% van die begroting uitmaak.

Wat die elektrisiteitstariewe betref, stel Eskom ’n verhoging voor wat deur Nersa (Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika) goedgekeur moet word en waaroor hulle voorskriftelik is.

Die Nersa-goedgekeurde tariefverhoging wat deur Eskom vanaf 1 Julie aan munisipale rade deurgegee is, is 15,63%. Die Nersa-goedge­keur­de verhoging wat deur munisipaliteite aan inwo­ners deurgegee is, is 13,07%. Die munisipaliteit het dus nie juis beweegruimte wat dié verhoging betref nie.

Ook wat wat salarisuitgawes betref, is daar voorskrifte wat deur die munisipaliteit gevolg moet word.

Die salarisse van munisipale werknemers word voor­geskryf deur die SA Plaaslike Regeringsonderhandelingsraad. Dié raad bepaal die salarisse ná onderhandelings met Salga (SA Local Government Association), Imatu (Independant Municipal and Allied Trade Union) en Samwu (SA Municipal Workers’ Union).

Volgens die jongste loonooreenkoms wat deur die betrokke partye geteken is, is die minimumsalaris van enige munisipale werker, ongeag kwalifikwasie, meer as R7360 per maand.

In die platteland op ’n dorp soos byvoorbeeld Oudtshoorn verdien sommige gegradueerde werknemers weens onder meer die moeilike ekonomiese en landboutoestande nie eens soveel nie. Die minimumsalaris soos voorgeskryf aan die private sektor is die helfte van ’n munisipale werker se minimumsalaris.

Wat die getal munisipale werknemers betref, word dit bepaal deur ’n organogram wat deur die munisipale bestuur en munisipale raad opgestel moet word ooreenkomstig die take wat verrig moet word sodat die munisipaliteit die nodige diens­te kan lewer. Dit is bekend dat die munisipale raad en munisipale bestuur voor 2016 hulle nie aan ’n organogram gesteur het nie, en dat die getal werknemers in ’n stadium meer as ’n dui­send was.

Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het Maandagaand by die burgemeester se GOP Imbizo en begrotingsvergadering genoem dat die personeelkorps intussen tot 670 verminder is, en dat hulle nou nog in arbeidsgedinge betrokke is weens dié personeelvermindering.

Die Hoorn beskik nie oor die nodige inligting of kundigheid om te bepaal hoe groot die perso­neelkorps moet wees vir die munisipaliteit om behoorlike dienslewering te verseker nie.

Wat die munisipale raad en bestuur egter wel voor verantwoordelikheid moet aanvaar, is die produktiwiteit van munisipale werkers en die gehalte van dienslewering.

Klagtes oor swak dienslewering en onproduktiwiteit is legio. Hou maar die koerante en sosiale media (kla-groepies soos Chris Koch, direkteur tegniese dienste van die munisipaliteit, dit by Maandagaand se vergadering genoem het) dop.
Daar is verskeie stappe wat wel gedoen kan word om die probleem van onproduktiwiteit aan te spreek:

• Volg die nodige prosedure met die aanstel van mense, soos dat hulle oor die nodige kwalifi­kasies, ondervinding en/of vaardighede beskik vir die poste waarin hulle aangestel word;

• ’n Behoorlike dienskontrak, waarvan ’n driemaandelange proeftydperk en prestasieklou­sules ’n deel vorm, is noodsaaklik;

• Daar moet behoorlike toesig en beheermaat­reëls wees om dissipline, produktiwiteit en gehalte van werk te verseker; en

• Laaste, maar nie die minste nie, sal goeie leierskap, ’n kultuur van integriteit, wedersydse respek en samewerking, en die motivering van werknemers beslis bydra tot ’n produktiewe werknemerskorps en dienslewering van gehalte.
– Schalk le Roux

Log in with your credentials

Forgot your details?