Dorp geruk deur dood van geliefde Donelle

Bo: Donelle Fortuin (27), jong mode-ont­werper van Oudts­hoorn wat Saterdag in ’n motorongeluk op die Huis- rivierpas gesterf het.  Foto: Facebook
Onder: Donelle Fortuin wys drie jaar gelede as opkomende modeontwerper vir Die Hoorn ’n foto in ’n boek van ’n model in een van haar ontwerpe.  Foto: Liesel le Roux

Die motorwrak onder die Huisrivierpas. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DIE gemeenskap van Oudtshoorn is vandeesweek tot stilstand geruk deur die dood van die jong modeontwerper, Donelle Fortuin (27), in ’n motorongeluk op die Huisrivierpas tussen Ladismith en Calitzdorp.

Donelle was Saterdagoggend (14 September) van die Kaap af op pad na haar ouers op Oudtshoorn toe haar motor – ’n wit BMW van haar ouers – die pad verlaat, deur die padreling gebars en om­geslaan het.

Die Huisrivierpas is op die R62 tussen Calitzdorp en Ladismith geleë.

Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het die ongeluk omstreeks 10:30 sowat 40 km buite Ladismith plaasgevind.

Dit is onduidelik wat aanleiding tot die ongeluk gegee het.

Donelle se gebroke ouers, Edmund (Eddie) en Marjorie Fortuin, het die week vertel dat hulle Saterdag bekommerd ge-raak het toe sy teen ’n sekere tyd nog nie by die huis opgedaag het nie.

Edmund het besluit om haar te gaan soek en het op die ongeluktoneel in die pas afgekom. Mense het Marjorie intussen by die huis gaan haal en ook na die ongelukstoneel geneem.

Edmund, voor sy aftrede hoof van die Departement Mannekrag op Oudtshoorn, sê sy dogter het veelvuldige beserings in die ongeluk opgedoen en is volgens alle aanduidings op slag dood.

Donelle, wat in April vir The Foschini Group (TFG) in Kaapstad begin werk het, het in 2015 haar graad in modeont­werp aan CPUT verwerf en het onder die etiket ODON ontwerp; met ODON wat verwys na Oudtshoorn waar sy haar weer ná haar studie gevestig het en haar naam Donelle, of Donnie soos haar familie haar genoem het.

Dié talentvolle jong vrou het in haar kort loopbaan talle prestasies behaal.

Sy was onder meer in 2016 een van tien semi-finaliste wat gekies is om aan die SA Fashion Week se Sunglass Hut New Talent Search deel te neem en is dieselfde jaar ook gekeur om ’n ont­werp te doen vir die Mercedes Benz International Film Festival in Kaapstad.

Donelle, ’n oud-leerder van Laerskool Van Reede en die Hoërskool Oudtshoorn, was oral waar sy gegaan het, geliefd, soos blyk uit die honderde huldeblyke aan haar ná haar dood op verskeie sosiale media-platforms.

Sy was klein en fyn, saggeaard en innemend, altyd vriendelik, met ’n groot vriendekring. In haar werk was sy perfeksionisties en ingestel op detail.

Marjorie, ’n afgetrede onderwyseres wat haar dogter deur die jare met groot liefde in haar werk as ontwerper onder­steun het, sê Donelle het niks ooit net aanvaar nie, maar haar altyd bedank – soms met kaartjies of briefies – vir elke ding wat sy gedoen het.

Donelle word oorleef deur haar ouers en ’n ouer broer, Dayne, wat in Kaapstad woon.

Haar begrafnisdiens vind Saterdag om 11:00 plaas uit die United Congregational Church ( UCC) in Jonesstraat.

Daar is om 10:00 ’n diens by haar ouderhuis in Buitekantstraat 250.

• Hiermee ook die innige simpatie van die eienaars en personeel van Die Hoorn aan die Fortuin-gesin.

Die Fortuins was in Januarie 2001 van die eerste mense wat ons op Oudtshoorn leer ken het toe ons langs hulle in Buitekantstraat ingetrek het. Ons het klein Donelle oor die jare sien grootword en ontpop in ’n pragtige en talentvolle vrou. Dit was ’n voorreg om haar te kon ken. – Schalk en Liesel le Roux

Log in with your credentials

Forgot your details?