Dit woel en werskaf by Celebratio!

Daar is vandeesweek hard gewerk om die verhoog te voltooi vir Saterdag se Kersfeeskonsert by Celebratio langs die sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp. Bo is Celebratio se pakstoor wat ’n aantal toerismegeriewe insluit en die terrein voor die gebou waar konsertgangers op stoele gaan sit. Onder is die verhoog in aanbou. Foto’s: Schalk le Roux

DAAR is die afgelope twee weke lang ure en laat­aande op die uitvoer-granaatplaas Celebratio ge­werskaf om alles gereed te kry vir Saterdag se eerste Klassieke Klein Karoo Kersfees wat op dié plaas plaasvind.

Konsertgangers kan reeds van 17:15 af toegang kry en gesellig verkeer saam met vriende en fami­lie met iets te ete by die stalletjies van Karooboom, Nostalgie en Bella Cibo. Liquourland, Black Mountain Gin en Calitzdorp Wynkelders sal sorg vir iets te drinke.

Die konsert begin om 19:15.

Die kunstenaars Kevin Leo en Corlea Botha sing die aand van hul gunsteling- klassieke en Kers­treffers. Hulle word begelei deur ’n klas­sieke orkes onder leiding van Paul Loeb van Zui­lenberg en ’n plaaslik saamgestelde koor onder leiding van Marinda Bothma-Schutte.

Die klank- en beligtingsingenieurs het reeds gister (Woensdag) begin om die klank- en beligtingtoerusting te installeer om te verseker dat die aand ’n ware skouspel sal wees.

Die Klein Karoo se sterrehemel sal die perfekte dak wees waaronder hierdie klassieke buitelug-kers­konsert plaasvind.
Kaartjies is beskikbaar by PostNet in die Queens Mall op Oudtshoorn en telefoniese besprekings kan gedoen word by 082 802 7138. Kaartjies sal ook nog die aand van die vertoning by die hek te koop wees.

Kaartjiehouers word versoek om betyds op te daag vir die parkering. Aangesien dit ’n buite­lug-konsert is, sal dit raadsaam wees om iets warms saam te vat. Alle sitplekke is gereserveerd en op stoele. Geen verversings mag ingebring word nie.

“Kom beleef ’n klassieke ervaring onder die Klein Karoo se sterrehemel,” sȇ Gerhard Meyer, eienaar van Celebratio wat die konsert organiseer.

Die Hoorn is die mediaborg vir die konsert.

Log in with your credentials

Forgot your details?