Dié naweek sing Corlea Lloyd-Webber se treffers!

MET ’n stem wat al be­skryf is as wêreldklas, sal Corlea Botha die gehoor Saterdag­aand behoorlik meevoer wanneer sy haar guns­teling- treffers van Andrew Lloyd-Webber gaan sing by ’n huldeblyk-konsert buite Oudts­hoorn.

Die produksie, Classical Tribute to the Music of Lloyd-Webber, word Saterdagaand (26 Oktober) op die granaatplaas Celebratio onder die ­sterrehemel van die Klein Karoo aangebied. Saam met Corlea op die verhoog is die Stellenbosch Stads­orkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenberg en die sanger Corneil Müller, wat vroeër vanjaar in The Voice SA te sien was.

Volgens Corlea is sy ’n groot aanhanger van Lloyd-Webber se musiek. “Om my gunsteling-lied van Lloyd-Webber te kies is net so erg soos om tussen jou kinders te kies,” skerts sy.

Maar as sy móét, dan sal treffers soos “I don’t know how to Love Him”, “Don’t cry for me Argentina”, “Think of Me”, “You must Love Me” bo-aan die lys wees.

In Classical Tribute to the Music of Lloyd-Webber sal Corlea en Corneil treffers uit onder meer Phantom of the Opera, Cats, Evita en Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat sing.

Corlea het verlede jaar Desember in die heel eerste konsert op Celebratio opgetree. “Dit was wonderlik om deel van die maiden voyage te wees! Dit was ’n Kers-program, en vir die kunstenaars en die gehoor ’n wonderlike aand. Ek sien uit om weer daar op te tree!”

Volgens Corlea is die geheim van ’n huldeblyk-vertoning soos Classical Tribute to the Music of Lloyd-Webber om te onthou dat “die musiek die ster van die aand is, en nie een van ons op die ver­hoog nie ­- ons is slegs die vessels”.

Die vertoning op Celebratio, wat op die Ou Sementpad tussen Calitzdorp en Oudtshoorn geleë is, begin om 20:00, maar die kos- en wynstalletjies open reeds om 18:00. Plaaslike restaurante soos Bella Cibo,

Karooboom en Nostalgie het heerlike eetgoed op hulle spyskaarte, terwyl Calitzdorp Wynkelder, Black Mountain Gin en Liquorland sal sorg vir iets te drinke.

Kaartjies kos tussen R180 en R220 en is aanlyn beskikbaar by die webwerf www.celebratio.co.za of by PostNet Oudtshoorn.

Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.

Log in with your credentials

Forgot your details?