Die begin van nuwe interskole-tradisie

DIE naweek begin ’n nuwe interskole-tradisie tussen die Hoërskool Oudtshoorn (Struisies) en die Hoërskool Overberg van Caledon (Ovies).

Die eerste wedstryde skop Vrydag af met ’n skaak- en ’n redenaarskompetisie tussen die twee skole. Saterdag volg die hokkie-, netbal- en rugbywedstryde.

Volgens Gerrit Rudolph, waarnemende skoolhoof van die Hoërskool Oudtshoorn, is daar verlede jaar al besluit dat die jaarlikse interskole-kragmeting teen die Hoërskool Outeniqua as gevolg van die getalle-oorwig van Outeniqua nie meer haalbaar is nie. Daar is voelers uitgestoot na die Hoërskool Overberg vir ’n moontlike nuwe tradisie van ’n jaarlikse interskole-kragmeting tussen dié twee skole.

“Ons gaan begin met ’n proeftydperk van twee jaar en ek is baie opgewonde oor wat tot dusver bereik is,” sê Rudolph.

“Overberg se skoolbeheerliggaam het reeds ons skool besoek en is ook baie opgewonde oor dit wat hulle hier aangetref het.”

Daar is ook begin met ’n nuwe tradisie ten opsigte van ’n sjampanjenooientjie. Daar is besluit dat Mej Struisie Saterdag die sjampanjenooientjie sal wees.

Vrydagaand onthaal die personeel en skoolbeheerliggaam van die Struisies hulle eweknieë van Caledon in die Georgie op die skoolterrein terwyl die leerders sal kan sokkie in die skoolsaal.

Volgens Rudolph is dit alles deel van die skool se visie om die leerders holisties te ontwikkel en blootstelling aan leerders uit ander omgewings te bied.

Hy sê die Hoërskool Overberg deel dieselfde visie as die Struisies en het ook tans nes Struisies ’n waarnemende skoolhoof.

Altesaam 260 spelers en afrigters vanuit Caledon word verwag en hulle word gehuisves en van etes voorsien in die koshuise van die Struisies.

“Ons almal sien uit na ’n baie opwindende nuwe tydperk en die ontstaan van ’n nuwe tradisie,” sê Rudolph.

Log in with your credentials

Forgot your details?