De Rust en Meiringspoortfees – ’n eerste nuwe streeksfees!

Dagboek dié datum sommer nou: 20 tot 22 September

’N NUWE fees vir die streek, die eerste De Rust en Meiringspoortfees vind die naweek van 20 tot 22 September op dié skilderagtige Klein Karoo-dorp plaas.

Die organiseerders van die fees hoop dat dit sal groei tot ’n jaarlikse gebeurtenis en die interessante De Rust-omgewing aan ’n veel wyer gehoor sal blootstel.

Die fees begin die Vrydagaand 20 September met ’n verwelkoming en kunsuitstalling van plaaslike kunstenaars en uitstallers.

Die Saterdag (21 September) skop af met ’n oggendmark in die hoof­straat met stalletjies buite die winkels en ander besighede.

Die kunsuitstalling van plaaslike kunstenaars sal ook weer oop wees.
Ander aktiwiteite die dag, is die volgende:

• 09:00 – Voëlkykers-staptog begin by die Toerismesentrum in die Hoofstraat.

• 11:30 – ’n Begeleide besoek aan De Rust Koppie en die talle plante wat daar gevind word.

• ’n Staptog op die Swartberg op die plaas Voëlgesang wat deel was van die oorspronklike plaas De Rust.

• ’n Perderit met die perde-eienaar Celia le Roux in die berge naby Doornkraal (www.doornkraal.co.za/ 2doorn-equine).

• ’n Byeenkoms om 17:00 by die Meiringspoort Waterval-parkeerterrein. Saksofoonmusiek en ’n praatjie oor die geskiedenis van die “poort” asook ’n komplementêre drankie.

Hiervandaan vertrek almal na die Meijersrust Gasteplaas by die ingang na Meiringspoort, waar ou inwoners van die gebied stories sal vertel van die vroeë dae van die De Rust asook eko-viendelike praktyke.

Die uitstappie sluit ’n ete in en kos R150. Bring eie drankies.

Op die Sondag (22 September) sluit die fees om 10:00 af met ’n tweetalige kerkdiens in die NG Kerk in Le Rouxstraat.

• Vir meer inligting, kontak die organi­seer­ders Willie Immelman (082 952 2001 of wduikergans@yahoo. com) of Callie Burger (082 455 5487). Kaart­jies vir die aandfunksie (R150) sal ook by hulle te koop wees.

• Besoek gerus bblad: www.derustheritage.org.za vir meer inligting oor die dorp en omgewing.

Log in with your credentials

Forgot your details?