Damme loop leeg

DROOGTE: Spaar water, vra munisipaliteit

OUDTSHOORN se damme is besig om leeg te loop, waarsku die Oudtshoorn Munisipaliteit in ’n persverklaring. Die munisipaliteit het ’n dringende beroep op inwoners gedoen om water uiters spaar­samig te gebruik.

Die vlak van die Raubenheimerdam staan op ’n baie lae 30%. Soos die damvlak daal, kan die dorp se watergehalte verder verswak, tot op ’n punt waar die “dooie water” onder in die dam heeltemal onbruikbaar sal wees.

Hoewel die Melvilledam tans 100% vol is en die kwaliteit van die water ook heelwat beter is as dié van die Raubenheimerdam, hou die Melvilledam net een maand se watervoorraad wat tans gespaar word vir ingeval die “dooie water” in die Raubenheimerdam bereik word.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het intussen strenger waterbeperkings ingestel om watergebruik te verlaag en versoek dat inwoners dié ta­riewe ernstig moet opneem.

“Ons kan ’n waterkrisis afwend as almal hul samewerking gee,” sê die dorp se burgemeester, Colan Sylvester. “Elkeen van ons is verantwoordelik om toe te sien dat water nie gemors word nie. Dit is ons plig om te verseker dat ons by die waterbeperkings hou om te verhinder dat die Raubenheimerdam se vlakke drasties daal.”

• Oudtshoorn het sowat 97981 inwoners uit sowat 23362 huishoudings wat van die dorp se waterbronne afhanklik is.

Luidens die persverklaring word die damwater voordurend gemoniteer om seker te maak dit is drinkbaar. Die jongste toetsuitslae toon geen E.coli of totale kolivorme in Oudtshoorn se drinkwater nie, maar die troebelheid en kleur is wel te hoog.

As gevolg van die hoë troebelheid word aanbeveel dat water vir drinkdoeleindes gekook word.
Dié water kan ook wit wasgoed vlek.

Log in with your credentials

Forgot your details?