Brandende bande op N12

Inwoners drom gister op die N12 net buite Oudtshoorn saam nadat hulle die pad met klippe en brandende bande versper het. Die N12 tussen Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust word tans opgegradeer om verkeer vinniger en veiliger te laat vloei. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
INWONERS van Rose Valley (Wyk 6) in Oudts­hoorn het gisteroggend die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust met brandende bande en groot klippe versper.

Die pad is eers weer teen 13:30 oopgestel vir verkeer nadat Wyk 6 se raadslid, Jerome Lambaatjeen, en Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, met die groep inwoners gesels het oor hul besware.

Nico Bosman (47), een van die inwo­ners, sê die groep inwoners is keelvol vir beloftes wat nie nagekom word nie.

Volgens hom en ander inwoners wat met Die Hoorn gepraat het, word daar reeds die afgelope 18 maande werk op die pad aan hulle belowe, maar bly dit net by beloftes

“Ons moet elke keer ’n klomp geld spandeer om na die kantore van die maatskappy te gaan wat in Dysselsdorp is, maar wanneer ons daar kom, sê hulle dat hulle ons sal bel en neem hulle ons kontaknommers, maar hulle bel nooit nie,”sê hy.

Volgens hom werk daar tans persone wat buite die dorp bly, aan die pad, en nie mense uit die gemeenskap van Wyk 6 nie.

Die Oudtshoorn Polisie en Brand-weer was gisteroggend op die toneel om die situasie dop te hou.

Die Polisie het werknemers van die maatskappy aangeraai om tot op ’n veilige afstand van die toneel weg te beweeg.

Volgens Ntobeko Mangqweng­qwe, woordvoerder van die Oudts­hoorn Munisipaliteit, is daar ná die gesprek van Sylvester en Lambaatjeen met inwoners besluit dat ’n vergadering met alle rolspelers Maandag (19 Augustus) sal plaasvind waar die gemeenskap se ontevredenheid bespreek sal word.