Borgtog vir drie in diamantsaak

Die toneel van die inhegtenisname van vier van die vyf verdagtes verlede week. Foto: Angelique Erasmus


Borgtog van R2 000 is vanoggend in die landdroshof op Oudtshoorn toegestaan aan drie van vyf mans wat aangekla word van die besit van ongeslypte diamante.

Vier van die verdagtes, Martin Botha, Moeketsi Matjoba, Jagdeep Singh Multani en Mongeotywa Fefe is verlede week by die Queen’s Mall in hegtenis geneem met twee ongeslypte diamante ter waarde van sowat R20 000 in hul voertuig.

‘n Vyfde verdagte, Divan Ernest van Oudtshoorn, is oor die naweek in hegtenis geneem.

Landdros Johan Steynberg het op instemming van die staat, borgtog aan Multani, Fefe en Ernest toegestaan terwyl Botha en Matjoba, albei van Lesotho, in aahouding bly hangende uitklaring ten opsigte van hul verblyf in Suid-Afrika van die Departement Binnelandse Sake.

Botha en Matjoba is Sotho-sprekend en omdat ‘n Sotho-tolk nie vanoggend beskikbaar was nie, het Fefe wat die taal magtig is, as tolk opgetree.

Die landdros het die staatsaanklaer versoek om seker te maak dat ‘n Sotho-tolk gereël word en die saak tot 10 September uitgestel. (Berig deur Garnett Wicomb)

Log in with your credentials

Forgot your details?